Deur Benescke Janse van Rensburg

Wat doen jy as dit regtig swaar gaan? Kla jy of prys jy God?

In ’n onlangse onderhoud op ’n Amerikaanse geselsprogram het bekende gospelsanger, Cece Winans, getuig oor hoe prys en aanbidding hulle as familie se lewens te midde van geweldige verlies verander het:

CECE: “Ek onthou die dag in die hospitaal langs my tweede oudste broer, Ronald (40) se bed. Die oomblik toe hy sy laaste asem uitblaas, was ons almal daar. In stede van inmekaarsak en huil, het my pa sy hande in daardie oomblik in die lug gesteek en God begin loof en prys. Vir my was dit ’n skok. Hoe prys jy God te midde van hierdie seer en verlies? My pa het aangehou om God te prys vir wie Hy is, vir Ronald se lewe en ook vir die jare wat ons hom deel van die gesin kon hê. As ek terugkyk besef ek watter draaipunt hierdie vir my was. Iets binne ons almal het daardie dag geskuif. In stede van fokus op ons verlies, het ons ons oë teruggedraai na God by die besef dat Hy waardig is. Tot vandag toe weet ek dat my ouers my broer mis, maar ek het hulle nog nooit depressief gesien nie. Dit is asof God iets in hulle lewens daardie dag geskuif het. Hy het kom genees en beskerm. Hy is waarlik steeds waardig om geprys te word.”

’n “Lofoffer” aan God is wanneer ons in ons seer, ontnugtering of teleurstelling kies om God te loof en te prys. Hierdie aksie word ’n demonstrasie dat ons glo dat Hy steeds in beheer is van ons lewens en toekoms. In Hebreërs 13:15 lees ons: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.”

Is dit maklik? Verseker nie. Tog is dit altyd die moeite werd.

Wag jy al lank op ’n deurbraak? Of is daar dalk seer of teleurstelling in jou lewe wat soos ’n reus voor jou staan? Kom ons kies om soos Cece se pa ons hande in die lug te steek en onsself te herinner dat God steeds waardig is om geprys te word. Ons kan dalk nie ons omstandighede verander nie, maar ons kan Hom by voorbaat dank dat Hy ons toekoms in sy hande hou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan loof en prys in elke situasie omdat U waardig is. Dankie, vir U liefde en genade en teenwoordigheid in elke seisoen. Help my vandag om ook weg te kyk van my omstandighede en U raak te sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • **Nuwe Swart Vrydag aanbod **: Met die groot aanvraag na die spesiale tarief het ons nog ’n paar boeke beskikbaar gestel. Kyk gerus hier: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ (Die aantal is beperk, so maak seker jy spring as jy belangstel).

TERUGVOER: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.