Deur Benescke Janse van Rensburg

In die week ontvang ek ’n boodskap van ’n leser wat my bedank vir die dagstukkies en getuienisse, maar byvoeg: “Hoekom antwoord God nie my gebede nie? Hoekom voel Hy so vêr van my af?” Voel jy dalk ook soos dié leser vandag?

Die geringste geluid in die donker woud het die jong seun se hart ’n slag laat mis. Elke dier se roep het koue rillings langs sy ruggraat afgestuur terwyl sy nekhare penorent staan. In die stam waaraan hy behoort, is dit ’n gebruik vir die seuns om die nag van hulle dertiende verjaarsdag alleen in die woud deur te bring. Dít sou hulle ’n man maak. Keer op keer moes die jong seun veg om nie te swig voor die versoeking om op te spring en na veiligheid te hardloop nie.

Eers met die eerste sonlig die volgende oggend het die seun verbaas ’n figuur ’n entjie weg van hom af op ’n klip opgemerk. Dit was sy pa met sy geweer in sy hand. In die donker nag waarin die seun natgesweet was van vrees, het hy nie geweet dat sy pa deurentyd dáár was om oor hom te waak.

Met tye voel dit of ons ook in ’n donker woud vasgevang is. Ons bid vir ’n verhouding om te herstel, maar dit val net verder uitmekaar. Ons bid vir ons finansies om te herstel, maar dit word al moeiliker om rekeninge te betaal. Of ons bid vir ’n goeie gesondheidsverslag, maar die uitslae wys agteruitgang. Hierdie dinge is soos die wolwe wat in die donker bos roep. Dit is die vyand se strategie om ons te laat glo dat God nie hoor nie.

Die waarheid is egter dat ons hemelse Pa, net soos die seun se pa, deurentyd oor ons waak. In Jesaja 41:13 herinner Hy ons: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.” Ook in Psalm 46:10 gee die Psalmdigter raad oor wat ons in daardie “stil tye” in ons lewens moet doen: “Bedaar en erken dat Ek God is . . .”

Mag ons onthou dat God nooit sluimer en slaap nie. Hy is nader aan ons as wat dit voel. Hy waak oor ons. Mag ons aanhou bid, want Hy hoor en verhoor stééds ons gebede op sy tyd en manier. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U soveel nader aan ons is as wat dit soms voel. Help my om my geloof en vertroue in U te plaas en nie in mense of dinge nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Nuwe boek: Kry Benescke Janse van Rensburg se nuutste boek, God is stééds God, met meer as 60 lewensveranderende geloofstories hier:  https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
  • Terugvoer: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..