Deur Benescke Janse van Rensburg

God is almagtig, maar Hy is ook betrokke in die detail in ons lewens. Vandag wil ek met jou die storie deel van ’n swembadfilter en ’n drukker:

Swembadfilter: Een van die eerste stories wat ek jare gelede geskryf het, was van Isebel. Sy het in daardie stadium deur ’n geweldige moeilike egskeiding gegaan en swaargekry – finansieel en emosioneel. Die kersie op die koek vir haar was toe hulle swembadfilter breek en sy magteloos moes toekyk hoe die swembad groener en groener word terwyl sy nie geld gehad het om ’n nuwe filter te koop nie. Op ’n dag sit sy depressief langs die swembad en wonder of daar nog enige sin in die lewe is. Haar gebed was: “Here, as U werklik God is, help my asseblief om hierdie swembad uitgesorteer te kry!” Sy het vir niemand van haar gebed of penarie vertel nie. ’n Paar dae later het haar seun aan ’n gholfdag deelgeneem. Hy het tweede geëindig. Sy prys? ’n Swembadfilter!

Drukker: Vroeër die week skryf Craig Rowbotham, ’n Vers-n-Dag leser uit North Devon, Engeland aan my. Hy vertel dat hy met sy eie besigheid van die huis af werk. Met maandeinde in Oktober het sy drukker opgepak! Nadat hy ’n hele middag spandeer het om die drukker te probeer regmaak het hy moed opgegee en aanlyn vir ’n nuwe een begin soek. Die vinnigste aflewering sou ’n week neem en met Engeland wat terugbeweeg na ’n maand van inperking, was hy nie seker wanneer die drukker by hom sou uitkom nie. Hier is sy storie:

  • Craig: “My dogter bly vier ure weg van ons in Southampton en ons gesels daagliks telefonies met mekaar. In ons gesprek het ek haar vertel van my frustrasie met die drukker. Sy vra toe watter drukker ek soek. My antwoord was die Epson XP-3100 omdat ek nog altyd ’n Epson gebruik en dié spesifieke model lyk asof dit presies is wat my besigheid benodig. Ek het genoem dat ek maar die volgende dag sou ingaan dorp toe om by ons plaaslike rekenaarwinkel te gaan kyk wat beskikbaar is. Alhoewel dit heel moontlik duurder sou wees, sou ek maar die geld moes spandeer en vat wat daar is omdat ek dringend ’n drukker benodig. ’n Paar minute ná ons gesprek het ek ’n foto van my dogter ontvang met die woorde: ‘Pa hoef nie meer in te gaan dorp toe nie. Ek stuur môre vir dié vir jou.’ Op die foto was ’n splinternuwe Epson XP-3100 drukker! Ek kon my oë nie glo nie. My dogter het maande vantevore ’n skootrekenaar gekoop en ’n drukker gratis gekry. Aangesien hulle reeds drukkers by die huis het, was hierdie drukker steeds in die boks. Ek was totaal oorbluf en dankbaar by die wete dat God presies geweet het wat ek sou benodig – nog voordat ek geweet het. Alle eer aan Hom.”

In Deuteronomium 8 herinner God die Israeliete dat Hy hulle stap vir stap uit Egipte en deur die woestyn gedra het. Toe hulle honger was, het Hy vir hulle manna gegee. Toe hulle dors was, het Hy vir hulle water gegee. Hy het hulle beskerm en vir hulle voorsien wat hulle ook al benodig het. Vandag nog sorg Hy vir ons. In Psalm 37:4-5 lees ons: “Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Omdat God buite tyd en ruimte bestaan, is Hy in staat om vir ons te voorsien wat ons nodig het. Ons het die keuse om dit aan “toeval” toe te skryf óf om Hom raak te sien. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my lewe aan U kan oorlaat. Ek bring vandag (noem jou uitdaging) na U toe. Vul my met vrede en versterk my geloof dat ek my oë op U kan hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Craig met sy drukker by benescke.co.za of op die Facebookbladsy, Stories van hoop.
  • Benescke Janse van Rensburg se nuutste boek, God is stééds God, gevul met meer as 60 hedendaagse getuienisse is nou beskikbaar. Kry die boek hier: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
  • Terugvoer: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..