Ben Fourie

"Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.’” Lukas 3:21 en 22

Die drie groot godsdienste wat hulle ontstaan in die Ou Testament het is die Christelike geloof, Islam en Judaïsme. Alhoewel Islam vir Jesus as ’n groot profeet beskou, verwerp hulle die idee dat Hy Seun van God is en aanbid net vir Allah. Selfs hulle grootste profeet Mohammed is nie die seun van Allah nie, net maar hulle belangrikste profeet. Die idee van die Heilige Gees kom nêrens in hulle leerstellings voor nie. Die ortodokse Judaïsme verwerp natuurlik ook vir Jesus as seun van God en wag nog steeds op ’n Messias. In die Ou Testament is verwysings na die Gees, maar nie in die sin wat ons Hom verstaan nie. Vir Islam en Judaïsme is ons idee van ’n drie-enige God heeltemal onverstaanbaar en onaanvaarbaar.

Vir ons as Christene is ons geloof in die drie-enige God egter die fondament van ons geloof, maar om die begrip te verduidelik is dalk die heel moeilikste van alle teologiese vrae. Die woord drie-enig kom nêrens in die Bybel voor nie en dit was ook eers in die derde eeu na Christus dat die kerkvader Tertullianus die begrip verwoord het.

Die idee kom egter veral in die Nuwe Testament oral voor. Ek noem ‘n paar teksgedeeltes. Matteus 28:19, Lukas 1:35, Johannes 14:16-17 en 1 Korintiërs 12:4-5. In die Nederlandse Geloofsbelydenis deel agt waar dit oor die drie-enigheid handel, lees ons: “Die Vader was nooit sonder sy Seun of sonder sy Heilige Gees nie, want hulle is al drie gelyk ewig in een en dieselfde wese. Daar is nie ’n eerste of ’n laaste nie, want hulle is al drie een in waarheid, in moondheid, in goedheid en barmhartigheid”.

Ek onthou hoe ons jongmense tydens voorbereiding om lidmate van die gemeente te word ons dominee gepeper het met vrae oor die drie-enigheid. Hy was ’n slim teoloog en wonderlike mens vir wie ons baie respek gehad het, maar hy kon nooit vir my ’n bevredigende verduideliking gee oor die drie-enigheid nie en ek verstaan dit vandag nog steeds nie heeltemal nie. Gelukkig het ek mettertyd besef dit gaan nie hier om iets wat ek met my verstand moet kan uitredeneer nie, dit gaan suiwer om met my hele wese te glo in God drie-enig soos wat Hy hom in sy Woord aan my openbaar.

In die volgende paar weke gaan ons kyk na hoe God ons ontmoet as Vader, as Seun en as Heilige Gees.

Gebed: Ons dank U uit die diepte van ons hart dat ons U kan ken as God drie-enig wat deur u openbaring as drie Persone elke aspek van ons lewe bestuur. Amen