Ben Fourie

“Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en jy moet hom die naam Jesus gee”. Lukas 1:31

Onlangs lees ek in ’n boek oor mense van Mexiko en kry ’n skok toe ek lees dat een van hulle se naam Jesus is. Van kindsbeen af het ek geleer dat ’n mens nooit die naam Jesus sommer net gebruik nie en hier lees ek van iemand wat in die alledaagse lewe Jesus genoem word.

‘n Bietjie naleeswerk op die internet het uitgewys dat dit ’n redelik algemene naam in Mexiko en ander Spaans- en Portugeessprekende lande is soos wat die naam Chris en Christiaan, wat van Christus afgelei is, baie volop is by ander taalgroepe. Daar is blykbaar verskeie geskiedkundige redes waarom mense hulle kinders hierdie name gegee het, maar dit is nie vir ons belangrik nie. Wat wel belangrik is, is waarom Maria spesifiek die naam aan haar seun moet gee.

Die naam Jesus kom van die Hebreeus Yeshua. Ons spel dit Josua en dit beteken letterlik “Die Here red” of “Die Here verlos.” Ook die Bybelnaam Hosea kom van die stam af. Dit is juis wanneer ’n mens na die verskil in die name Hosea en Josua kyk dat jy iets begin gewaar van die groot verskil ook tussen die algemene naam Jesus en die naam Jesus wat aan die kind van Nasaret gegee is.

In Numeri 13:16 word vertel van die verspieders wat moes uitgaan om die land te verken onder andere Kaleb en Hosea die seun van Nun. Daar lees ons dat Moses laasgenoemde se naam verander van Hosea na Josua. Klink nie na te veel verandering nie, maar dit is inderdaad ’n reuse verskil. Hosea beteken letterlik “Hy red” terwyl Josua beteken “Die Here red”. Josua sou een van Israel se grootste leiers word wat juis deur God se reddende teenwoordigheid die belofte van die Beloofde Land laat waar word het. Sou hy nog Hosea heet, sou mense kon dink dit is hyself wat die volk uitgered het, maar die naam Josua laat geen ruimte vir twyfel oor wie die ware redding gee nie.

Dit is ook die verskil tussen baie mense met die naam Jesus en Jesus van Nasaret. In die betekenis van elke Josua en Jesus is daar ‘n belofte van redding, maar alleen in die naam van Jesus van Nasaret kom God se belofte, dat Hy ons van sonde en die ewige dood verlos, regtig tot vervulling.

Gebed: Ons wil U loof met die woorde van die lied wat sê: “Jesus groot bo almal, sterke Verlosser, magtige Heer en Heiland, Immanuel, God is met ons, reddende Here, lewende Woord.” Amen