Vers n dag - 25 Oktober 2011
Jesus groet sy dissipels
Neville Turley
Lukas 24:50-51
Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.
Die opgestane Jesus het self deur die manier hoe Hy sy dissipels finaal gegroet het, die seël op sy eie bediening gedruk. Sy finale groet was 'n seënbede. Sy bediening hier op aarde was voltooi, maar voordat Hy hulle geseën het, het Hy 'n belofte gemaak en het Hy aan hulle 'n taak gegee om uit te voer.
Die belofte was dat hulle die krag van die Heilige Gees sou ontvang. Die taak was dat hulle sy getuies moet wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
Hulle moes sy bediening voortsit. Hulle hande en voete moes die verlossingsboodskap tot aan die einde van die wêreld neem.
Sy bediening het egter nie met die dood van die dissipels opgehou om te bestaan nie. In elke daaropvolgende geslag is daar sy kinders wat, deur die krag van die Heilige Gees, die werk voortsit.
In 2011 is ek en jy sy hande en sy voete. Nie almal van ons word tot die voltydse bediening geroep nie, maar almal van ons kan 'n belangrike rol speel in die verspreiding van sy woord. Een so 'n manier is byvoorbeeld deur die ondersteuning van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Bybel-'n-Maand Klub. Lede help om maandeliks Bybels vir 'n spesifieke projek beskikbaar te stel.
Jy sal egter na alle waarskynlikheid eers op die Oordeelsdag weet watter impak die Bybels wat jy help versprei het, op die lewens van mense gehad het. Jy het egter die belofte van die Here dat sy woord nie leeg na Hom sal terugkeer nie.
Sien jy kans vir die uitdaging?
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek ook deel van die Groot Opdrag kan wees. Help my om u hande en voete hier op aarde te wees. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen