Vers n dag - 24 Oktober 2011
Ware vergifnis
Neville Turley
Matteus 6:14-15
“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Jesus leer sy dissipels hoe om te bid en gee aan hulle die gebed wat ons almal ken as die "Ons Vader"-gebed. Jesus weet egter dat die deel "en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree" (Matteus 6:12) vir baie, ook vir ons, 'n struikelblok kan wees. So in ons vers vir vandag, Matteus 6:14-15 verklaar Hy dit vir ons.
Dit is eintlik baie eenvoudig. Ons is almal sondaars wat God se vergifnis nodig het. Ons Vader is bereid om ons al ons sondes te vergewe en om dit te vergeet. Jesus leer ons dat ons egter op ons beurt weer diegene wat teen ons oortree, moet vergewe.
Hy vergewe ons ons sondes, maar ons moet ander mense ook vergewe. Indien ons ander oor dit wat hulle ons aangedoen het, haat en 'n wrok teen hulle koester, word ons verbitterde mense.
Om te vergewe is nie maklik nie. Dit is in werklikheid een van die moeilikste Christelike deugde om te bemeester. Jy het ongetwyfeld al iemand hoor sê: "Ek kan vergewe, maar ek kan nie vergeet nie." Dit is egter nodig om nie voortdurend te broei op dit wat iemand jou aangedoen het nie, want solank jy aanhou om daaraan te dink, bly dit onmoontlik om daardie persoon waarlik te vergewe.
Vra die Here om jou te help om êrens in jou brein 'n plekkie (jou eie "forgettery") te kan ontwikkel waar jy al jou gedagtes oor dit wat mense jou aangedoen het, kan gaan begrawe. Slegs as ons nie meer voortdurend aan hierdie dinge bly dink nie, sal ons die seëning van ware vergifnis kan beleef.
Gebed: Hemelse Vader skenk aan ons die genade om ander te kan vergewe soos U ons vergewe. In Jesus se Naam. Amen.