Xanthe Hancox

Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Matteus 19:13-14

Dit was 'n Joodse tradisie om klein kindertjies na 'n belangrike rabbi te bring sodat hy hulle kon seën en vir hulle bid. Baie soos ons vandag nog doen wanneer 'n kind en sy ouers aan die Here toegewy word.

Maar die ouers van die kindertjies in Matteus 19 word ernstig deur Jesus se dissipels berispe. Hulle mening was dat Jesus meer as net 'n belangrike rabbi was en dat sy tyd te kosbaar was om op kindertjies te mors. Jesus, daarenteen, het hulle berispe oor hulle houding aangaande hierdie kinders. Hy het sy dissipels op 'n baie besliste manier vertel dat die koninkryk van die hemel was juis vir mense soos hierdie klein kindertjies.

Ons kan baie oor geloof en hoop van kinders leer. Hulle nader die Here met 'n mate van verwondering, iets wat baie van ons verloor soos ons ouer word en die ingewikkeldhede van die lewe leer ken. Maar moet nie die verwondering van 'n kind met eenvoud verwar nie. Kinders vra dieselfde belangrike vrae (Waar is God? Hoe groot is God?) as ons – hulle is net meer gemaklik met die misterie daarvan. Hulle is ook nie bang om te vra as hulle nie weet nie. Ek wonder of dit nie dalk 'n getroue refleksie is van wat dit beteken om ware hoop te hê nie.

Kinders se bereidwilligheid om te volg, leer ons wat ware nederigheid is. Deur hulle kapasiteit vir verwondering en blydskap leer ons die aard van ware aanbidding. Hulle is rigtingwysers vir ons na God en dit gee ons die hoop en vertroue dat Hy ons ook liefhet!

Kinders is ook 'n belangrike deel van die werk van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Deur die Bybelgebaseerde geletterdheidsprojek word basiese getterdheid en Bybelgeletterdheid, veral onder kinders in die grondslagfase van onderwys, deur Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal bevorder. Bybels vir graad 7-leerders help om Bybels beskikbaar te stel aan leerders in die armste dele van ons land. Bid asseblief vandag vir hierdie projekte.

Gebed: Here, dankie dat U ons kinders liefhet. Help ons om meer soos hulle te wees en aan U vreugde te verskaf. Ons bid met hoop in ons harte dat U, of ons nou groot of klein is, in ons lewens sal werk. Amen

https://www.bybelgenootskap.co.za/index.php/af/raak-betrokke/projekte/19-projekte/77-bybelgebaseerde-geletterdheidsprojek

 

https://www.bybelgenootskap.co.za/index.php/af/raak-betrokke/projekte/19-projekte/78-bybels-vir-graad-7-leerders