Xanthe Hancox

Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.  Hebreërs 6:19-20

Wat is die doel van 'n anker? Dit keer dat jou boot deur die wind weggewaai word of deur die gety die see ingetrek word of dit op die rotse laat beland. Wat as iemand sê: ek het jou boot toegerus met 'n goeie swaar anker wat stewig in die seebodem sal insink, maar ek het dit nie aan die boot vasgeknoop nie. Sal dit jou bemoedig?

Ek dink nie dit is die beeld waarna die skrywer hier verwys nie. Wanneer hy in vers 19 na 'n lewensanker verwys, dink ek hy bedoel dat die anker stewig in die hemel geanker is,maar dit is ook stewig in jou siel geanker.

Hebreërs 6 vertel ons van twee mense wat ons verseker dat hoop in God 'n anker vir die siel is. Die eerste is Abraham. Die Here het aan Abraham 'n land en 'n nageslag beloof. Selfs al het dit gedurende Abraham se leeftyd gelyk asof hierdie beloftes nie bewaarheid gaan word nie, het Abraham bly glo in die anker van God se beloftes en dit is mettertyd vervul. Die tweede persoon is Jesus, "ons Voorloper". Jesus het ons vooruit gegaan. Hy het die wedloop van die menslike lewe voltooi. Hy het deur die dood gehardloop, en Hy het as oorwinnaar opgestaan. Deur in sy voetspore te volg, het ons 'n anker vir die siel. Omdat Hy geleef, gesterf en opgestaan het, leef ons in die hoop dat God ook aan ons 'n nuwe lewe na die dood sal gee.

Wanneer ons deur die stormwaters van die lewe getref word en ons nie die land kan sien nie, laat ons bly hoop in Jesus, die anker vir ons siel.

Gebed: Here, ons voel dikwels of ons in 'n boot is wat diep in die see ronddobber. In sulke tye, en elke dag, gee aan ons die seker anker van hoop in U. Amen