Ben Fourie

“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie.” Eksodus 20:7

Wat is in ’n naam vra ons dikwels. Vir baie mense is dit belangrik dat ’n kind die familienaam kry. Ander kies ’n mooiklinkende naam of vernoem ’n sportheld. In die Bybel is name baie belangrik en is dikwels gekies om die hoop en verwagting wat die ouers vir die kind gehad het uit te druk, of ’n belangrike gebeurtenis te herdenk. Jou naam was jou identiteit, het vertel wie jy is.

Omdat God se Naam van baie groot betekenis is en as absoluut heilig beskou is, vind ons dat daar in die Tien Gebooie ’n spesifieke gebod is wat die misbruik van sy naam verbied met ’n ernstige waarskuwing dat die wat dit oortree nie ongestraf sal bly nie. Professor FC Fencham sê dat die Hebreeus vir misbruik, letterlik beteken om sy Naam vir ’n nietige doel te gebruik en God is nooit nietig nie. Vir die Jood was en is hierdie gebod so bindend dat hulle selfs ander name soos Adonai gebruik het in plaas van JAHWE.

In die Bybel word die verskillende maniere hoe God met mense werk uitgedruk deur verskillende agtervoegsels by El of Jahwe byvoorbeeld El Olam wat Ewige God beteken of Jahwe Jireh wat beteken die Here voorsien. Nêrens word sy Naam sommer net vir ’n nietige doel gebruik nie, maar altyd om te verwoord hoe Hy met mense omgaan.

In die volgende paar weke gaan ons kyk na die verskillende maniere hoe God se handeling met mense in die Ou Testament deur hierdie “name” uitgebeeld word en DV later vanjaar die Nuwe Testament.

Gebed: Here help my om in alles wat ek doen of sê nooit vir U nietig te ag nie. Help my om so oor U te praat dat ander mense altyd sal hoor en sien dat ek vir U die allergrootste respek het.  Amen