Xanthe Hancox

Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees.  Psalm 90:14 (Die Bybel: 2020-vertaling, ongepubliseerd)

Ons laaste vers op ons reis deur die Psalms bevat wonderlike waarhede wat ons in staat stel om ons dag in oënskou te neem nog voordat dit begin het. Terwyl baie mense die hele dag op soek is na bevrediging, versadig die Here sy kinders reeds aan die begin van hulle dag.

Die eerste woord, versadig, is heel moontlik die belangrikste woord in hierdie vers. Die psalmdigter vra die Here hier reg aan die begin om hom te versadig en dit is vir ons beide 'n voorbeeld van hoe ons God kan vra om ons gelukkig te maak, asook van toestemming dat ons Hom daarvoor mag vra. Die bedoeling is nie dat ons onsself moet versadig nie. Hierdie psalm leer ons om in alle omstandighede ons tot die Here te wend en Hom te vra om ons te versadig.

En as ons in die oggend deur die Here versadig is, is ons elke dag vry om Hom te verheerlik.

Terwyl die wêreld werk gebruik sodat mense deur persoonlike prestasies versadig kan word, is ons vry om die Here deur ons werk te verheerlik en vir ons gesinne te voorsien. Terwyl die wêreld ontspanning gebruik om deur die najaag van plesier versadig te word, is ons vry om in alle omstandighede blydskap te vind. En terwyl die wêreld mense gebruik wat hulle bevrediging uit ander se goedkeuring put, is ons vry om die Here te verheerlik deur ander lief te hê – werklik sonder enige selfsugtige agenda vir ander om te gee.

God se liefde gee ons 'n beter begrip vir ons omstandighede en help ons om dit te aanvaar, eerder as om deur ons harte oorheers te word. Eerder as om na ons dagskedule te kyk en te hoop vir 'n goeie dag of om te probeer om 'n goeie dag te beplan, kyk ons na die Here om ons elke oggend met sy troue liefde te versadig.

En omdat ons aan Hom behoort, is vandag reeds 'n baie goeie dag.

Gebed: Dankie Vader dat ek nie tot in die aand hoef te wag voordat ek kan bepaal of dit 'n goeie dag was nie. Dankie dat U my vir ewig met u troue liefde liefhet. Amen