Vers n dag - 7 Junie 2011
Gedagtes:
Carina Francke
Skriflesing:
Ps 94:11
“Die Here ken die gedagtes van die mense – dat hulle nietigheid is.â€
’n Mens se gedagtes of denke is dié deel van sy menswees wat selde tot ruste kom. Dit is wegholperde wat koers vat en jou in een rit laat galop oor lowergroen grasvlaktes, teen steil kliprandjies op, deur ’n rivier in vloed om uiteindelik tot stilstand te kom net voordat jy die afgrond aftuimel. Dit vermenigvuldig sonder dat jy dit beplan en is eiesinnig, is traag om voorgesê te word en is altyd besig om die sterkte van die beskermende staldeure te toets.
Maar die Here ken die aard van daardie gedagtes en weet dat dit nietigheid is.
Ons gedagtes is ons eie. Iets wat ons nie met ander hoef te deel nie. Dit is ’n ontvlugtingsplek vir hartseer, ’n groeiplek vir haat, ’n bêreplek vir herinneringe en ‘n planmaakplek vir goed of kwaad. Soms vriend, soms vyand.
Die Here ken die plek en dit wat daarin lêplek kry – dat dit nietigheid is.
Moet ons hierdie wilde gedagteperde vrye teuels gee en hulle toelaat om ’n eie rigting in te slaan? Beslis nie! So stuur ons mos op selfvernietiging af! Hy wat die nietigheid van ons gedagtes ken, kan vertroosting gee wanneer dit onrus in ons bring (Ps 94:19). Maar dit vra dat ons gedagtes ingebreek word. Dit gebeur net as ons Hom toelaat om ons gedagtes of denke te vernuwe (Romeine 12:2) en as ons elke gedagte en elke  bedoeling van ons hart, laat beoordeel deur dit wat in die Woord geskryf staan (Hebreërs 4:12). En kry ons dit reg, word dit vir ons moontlik om te onderskei wat die wil van God is en wat vir Hom goed, aanneemlik en volmaak is.
Gebed: Here, met U hulp alleen is dit vir my moontlik om elke gedagte wat by my opkom, onder beheer te bring. Ek wil by ’n rusplek kom waar U my gedagtes kan bevrug sodat ek kan weet hoedat U wil hê ek moet lewe. Amen.