Vers n dag - 31 Mei 2011
U sien dwarsdeur my
Dirk Taljaard
Skriflesing:
Psalm 139:1, 13 en 14
1 Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 13 U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep...
Die mediese wetenskap het al só ontwikkel dat baie dinge, wat 'n paar dekades gelede as onmoontlik beskou is, vandag alledaagse praktyk is. Sekere operasies het al byna standaard-prosedures geword.
Een die wonderlike dinge is dat daar baie apparate is wat gebruik kan word om te sien waar die menslike oog nie kan bykom nie: X-strale, sonars en skandeerders, wat letterlik dwarsdeur jou kan sien en jou ingewande en organe op film en video kan vaslê.
Dit maak mens soms opgewonde omdat dit die medici help om te weet hoe om in te gryp. Maar terselfdertyd maak dit mens bang vir slegte nuus en onwelkome uitslae.
Die Psalmdigter praat eeue terug ook oor 'dwarsdeur sien'. Maar hy verwys na iets anders as dit waarop die mediese wetenskap hom kan beroep: Die Here ken my deur en deur. Hy weet alles van my af. Hy het my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Hy ken die weefsel waarvan ek gemaak is. Ken die potensiaal wat in my ingeskape is. Hy ken my gedagtes. Hy ken my woorde. Niks is verborge nie.
Wat 'n wonderlike gedagte en wete. Hy weet waar ek vandaan kom. Hy weet in watter omstandighede ek my bevind. Hy weet wat vir my voorlê in die toekoms. Daar sal nie 'n oomblik of 'n geleentheid wees wat ek sy aandag sal ontglip nie. As ek sy kind is, leef ek onder sy beskerming. Wat ookal vir my voorlê vandag, sal Hom nie verras nie. En daarom kan en sal Hy my daardeur dra.
Aan die ander kant is die wete dat die Here dwarsdeur my sien, 'n ontstellende gedagte. Daar is baie dinge wat ek vir mense kan wegsteek of vermom. Ek kan myself 'n rat voor die oë probeer draai. Maar die Here word nie geflous nie. Hy weet. Hy weet wat ek dink oor Hom en ander mense. Hy weet hoe mompel ek binnesmonds wanneer ek gespanne of bedruk is. Hy ken my swakhede en gebreke. Niks is vir Hom 'n geheim nie.
Te midde van dit alles bly Hy getrou aan sy beloftes dat Hy my nooit sal begewe of verlaat nie! Is dit nie wonderlik nie?
Waar jy ookal vandag gaan, onthou die Here sien jou en ken jou. Mag dit jou rustig stem, maar ook versigtig maak in al jou doen en late.
Gebed:
Hemelse Vader, U wat my gemaak het, ken my goeie hoedanighede, asook my swakhede. U ken my deur en deur. Maar, dankie dat U ook my potensiaal ken. Help my om dit te verwesenlik.