Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 18 Maart 2011

“Staan op, staan op vir  Jesus

Johann Symington

Skriflesing: Efes 6:13

Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

As kind toe die Hallelujaboekie nog vrylik in gebruik was het almal lied 444: “Staan op, staan op vir Jesus”goed geken en graag gesing. Maar wie weet hoe die lied ontstaan het?  Dis ‘n heel merkwaardige storie.

Dudley Tyng was ‘n jong predikant in Philadelphia in die VSA. Sy passie in die lewe was veral om getroude mans en vaders na Jesus toe te lei. Op ‘n dag in 1858 het hy ‘n reuseveldtog waar 5,000 mans teenwoordig was, toegespreek (amper soos vandag se Mighty Men-saamtrekke!).  Terwyl hy oor die massa heen gestaar het, het hy in ‘n oomblik van oortuiging gesê:  “Ek sal eerder dat my arm reg in die potjie geamputeer word as om nie vandag my plig te doen en aan julle die boodskap van God te verkondig nie.” Volgens getuies het meer as ‘n duisend mans daardie dag hulle lewens aan die Here toegewy.

Twee weke later het sy mou in ‘n dorsmasjien vasgehaak en is sy arm in die potjie afgeruk. Toe dit duidelik was dat sy lewe op aarde verby is, het hy aan sy gryse ou vader, self ‘n predikant gesê: “Pa, sê vir die mense dat hulle vir Jesus moet opstaan.”

‘n Ander predikant, ene George Duffield was so aangeraak deur dié sterwenswoorde dat hy ‘n gedig geskryf het na aanleiding van Efesiërs 6 wat later die bekende “Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis” geword het.  Iemand het dit getoonset en so het die woorde letterlik miljoene mense oor die hele wêreld geïnspireer.

Ons sing die lied vanweë verskeie redes nie meer nie maar tog bly dit ons inspireer om op te staan vir dit waarin ons glo.  Ons durf nie stilbly wanneer God ‘n helder en sterk woord van ons vereis nie.

Gebed: Wanneer laas , Here, het ek vir U opgestaan – openlik en sonder skroom.  Gee my die oortuiging om te staan wanneer dit tel.

Previous article: Vers n dag - 22 Maart 2011 Prev Next article: Vers n dag - 17 Maart 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.