DAG 20: EK IS ... REGVERDIG, MAAR OOK GENADIG - 28 Februarie 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ná Vrydag se stukkie rondom "luister-gebed", het verskeie lesers gereageer. Van die mees algemene vrae was: "Hoe kan ek weet dat God werklik met my praat? Hoe 'meet ek' wat ek hoor aan die Woord? Praat Hy werklik met ons almal?" Omdat die kern van ons geloof 'n verhouding met God is, wil ek die reeks afeindig met Moses se storie waarmee ons die reeks begin het.
Aan die voet van die Sinaiberg het Aäron en die leiers van Israel versteen gestaan en kyk na Moses wat na hulle aangestap gekom het. Hy was vir 40 dae bo-op die berg in God se teenwoordigheid. Buiten vir die twee plat klippe wat hy by hom gedra het met reëls wat God vir die Israeliete gegee het, het sy gesig geskyn soos die son. Dit was 'n duidelike teken dat hy in die teenwoordigheid van God was.
Voor die brandende bos in die woestyn jare vantevore, het Moses, as skaapwagter, paniekerig gevra wie hy moet sê hom gestuur het as die Farao sou vra. God het geantwoord: "EK IS WIE EK IS." Dié keer was Moses vol selfvertroue. Hy het sy Maker geken. Hy het sy God geken. Hy het EK IS werklik geken.
In Egipte voor die Farao se troon, het Moses EK IS leer ken as die God wat hom VERSTERK en BESKERM het en nooit in die steek gelaat het nie. By die Rooi See, met hulle rug teen die muur, het Moses en die volk Hom as die WONDERWERKGEWER leer ken toe Hy 'n pad deur die water gemaak het. Aan die voet van die Sinaiberg, het die volk God se HEILIGHEID en KRAG beleef toe Hy met donderslae en die klank van die ramshoring met hulle gepraat het. Toe die volk afvallig geraak het en 'n goue kalf aanbid het, het hulle Hom as 'n REGVERDIGE REGTER leer ken toe Hy op die punt was om die volk te vernietig. Moses het egter by God gepleit vir 'n tweede kans vir die volk. Hier het hulle Hom as 'n GENADIGE God van tweede kanse leer ken toe hy die volk spaar.
In Eksodus 33:11 lees ons: "Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend." Ook in Eksodus 34:6-7 beskryf God Homself soos volg: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.” En dan in Jakobus 4:8 lees ons: "Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte . . ."
Wie is God vir jou? Sien jy Hom as 'n kwaai, onregverdige God of het jy Hom al leer ken as 'n genadige God wat jou oneindig liefhet? Onthou, Hy praat daagliks met ons. As jy wonder of wat jy hoor van Hom af is, kyk of dit strook met sy karakter in die Woord. God verander immers nooit nie.
Moses se gesig het gestraal toe hy uit God se teenwoordigheid gekom het. Dit het hom verander. Hoe lyk ons lewens? Kan mense rondom ons sien dat ons in sy teenwoordigheid tyd spandeer het? Leef ons anders? Skyn ons as sy kinders sy liefde na die mense rondom ons? Kom ons maak tyd in sy teenwoordigheid 'n prioriteit. Sal dit nie wonderlik wees as ander kan sien dat ons by Hom was sonder dat ons ooit 'n woord daaroor hoef te rep nie? Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U groot liefde en genade. Help my asseblief om U stem duideliker te hoor. Ek begeer 'n meer intieme verhouding met U as ooit vantevore.
- OPDRAG: Aan die begin van die maand het ek voorgestel dat ons elkeen 'n pen en papier uithaal en die eienskappe van God neerskryf wat vir ons uitstaan. As jy dit vandag weer moet doen. Wie is Hy vir jou? Kyk na die lys en dank Hom dat Hy, EK IS nooit verander nie.
- TERUGVOER: Stuur terugvoer oor die reeks na
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .