Dag 19: EK IS... WEET - 27 Februarie 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
'n Tydjie gelede staan ek en kyk na 'n halfvoltooide stuk borduurwerk. Al is ek geen naaldwerkkenner nie, kon ek onmiddellik die detail raaksien. Geen steek was uit plek uit nie en ek het dadelik geweet dat ure se werk reeds hier ingegaan het. Ek het die stuk borduurwerk omgedraai en meteens was dit amper die presiese teenoorgestelde. Agter het dit gelyk soos chaos. Daar was los drade en ek kon geen prentjie sien nie.
In ons lewens is dit ook so. Soms beleef ons situasies waarin dit voel asof dinge glad nie uitwerk soos wat ons gehoop het nie. 'n Geliefde sterf. Ons word gediagnoseer met 'n siekte. 'n Verlowing word verbreek. Ons word afgelê by die werk. Die aanbod op 'n droomhuis val deur die mat. Of ons beleef 'n miskraam na jare se wag om swanger te word. In hierdie oomblikke voel dit soms soos absolute chaos in ons lewens. Die los toue maak glad nie sin nie.
Tog lees ons in 1 Korintiërs 13:12: "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken."
Alhoewel ons nie altyd verstaan waarom dinge in ons lewens gebeur nie, kan ons weet dat EK IS die toekoms ken. In Jeremia 1:5 herinner God die profeet Jeremia: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken . . . " Ook in 1 Johannes 3:20 lees ons dat niks vir God verborge is nie: "As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles." Hy werk buite tyd en ruimte soos ons dit verstaan en ken ons elkeen se toekoms.
EK IS sien die voltooide prentjie. Hy kyk na die bokant van die borduurwerk terwyl ons slegs die onderkant sien. Wat dus vandag vir ons mag voel soos chaos in ons lewens, sal eendag volkome sin maak as ons voor sy troon gaan staan. Al wat ons moet doen is om Hom te vertrou. Die donker swart gare en diep steke (in die vorm van donker seisoene in ons lewens) is soms juis nodig om die prentjie aan die bokant perfek te laat vertoon. Onthou, Hy sien die groter prentjie.
Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe bly al voel dit vir my asof ek totaal beheer verloor het. Help my om nie my geloof en vertroue in U perfekte wil te verloor in moeilike tye nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen
- Kyk gerus na van die voorkant en agterkant fotos van borduurwerke hier: www.benescke.co.za
- OPDRAG: Wat voel totaal buite jou beheer in jou lewe? Kies om dit vandag in EK IS se hande te laat.
- TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Benescke