Die appel val nie ver van die boom nie - 25 November 2016
Neville Turley
Hoog bo al die nasies heers die Here, sy mag strek selfs oor die hemele. Psalm 113:4
As daar al ooit 'n persoon was met die verkeerde naam dan was dit Atalia (God is groot). Atalia was die dogter van koning Agab en koningin Isebel, die berugste vrou in die Bybel.
Atalia was getroud met Joram, wat koning van Juda geword het. Soos Isebel was Atalia 'n vurige aanbidder van Baäl. Die priesters en almal wat die ware God gevolg het, het sy gehaat.
Na hy agt jaar aan bewind was, is Joram dood. Sy seun Ahasia het koning geword, maar is dood in 'n militêre staatsgreep in Israel. Toe sy van haar seun se dood hoor, het Atalia al haar kleinkinders koelbloedig laat vermoor en self die troon bestyg.
Sonder dat sy daarvan bewus was, het Ahasia se een suster sy babaseuntjie, Joas, gered deur hom stilletjies weg te vat by die prinse voordat hulle vermoor is. Sy het hom versorg en later aan die priester Jojada oorhandig sodat die tempelowerhede hom kon versorg. Hulle het het hulle werk deeglik gedoen en die seuntjie vir ses jaar in die tempel versteek.
Toe Joas sewe jaar oud was, het Jojada 'n plan beraam om hom as koning te laat kroon en sodoende Dawid se nageslag as troonopvolgers te beskerm. Hy het 'n kroningseremonie in die tempel met swaar gewapende beskerming gereël.
Toe koningin Atalia die trompet hoor blaas en die skare hoor roep, het sy haar na die tempel gehaas. Sy het gesien wat gebeur en geskreeu “Verraad! Verraad!” (2 Kronieke 23:17)
Die wagte het haar gegryp en doodgemaak. Die skare het die tempel van Baäl afgebreek en die altare en afgode vernietig. Hulle het ook Mattan, die Baälpriester, doodgemaak. Jojoda het toe 'n verbond gesluit dat hy, die koning en die volk, die volk van die Here sou wees.
So het die bloedige regering van die enigste vroulike monarg wat ooit oor Juda regeer het, tot 'n val gekom. Net soos die geval met haar ma, het Atalia se amibisie en haar honger na mag tot haar geweldadige einde gelei. God is groot.
Gebed: Hemelse Vader, deur u genade bewaar ons teen sonde en versoeking. Skenk aan ons deur u Heilige Gees die nodige krag om deur woord en daad u Naam te verheerlik. Amen