Baie myle lê tussen doen en sê - 24 November 2016
Neville Turley
Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Jakobus 2:14
'n Gemeente waar die lidmate nie 'n hart vir sending het nie, sal nie groei nie. Dit kon nie van die gemeente van Antiogië gesê word nie. In dié gemeente was dit 'n miernes van bedrywighede met profete, leraars en lidmate wat die Here gedien en gevas het.(Handelinge 13:1-3)
Onder leiding van die Heilige Gees het hulle Barnabas en Paulus afgesonder vir 'n sendingaksie. Dit was Paulus se eerste sendingreis. Daar moes groot opgewondenheid geheers het toe Barnabas en Paulus en hulle assistent, die jong Johannes, ook bekend as Markus, in ongeveer 46 n.C. per skip na Siprus vertrek het. Dié eiland was toe 'n Romeinse kolonie en die goewerneur op daardie stadium was Sergius Paulus. Hulle het deur die hele eiland gereis en die evangelie verkondig en uiteindelik by Pafos aangekom waar die goewerneur gewoon het.
Sergius Paulus was 'n intelligente man wat graag die evangelie wou hoor. Hy het Paulus en Barnabas laat roep. In sy huishouding was daar 'n Joodse towenaar, 'n vals profeet, genaamd Barjesus. Paulus en Barnabas het hom voorheen ontmoet.
Hy was teen hulle besoek en hy het probeer om die goewerneur te oortuig om nie na hulle te luister nie. Paulus, gevul met die Heilige Gees, het hom direk aangekyk en hom as 'n kind van die duiwel uitgewys. Paulus het hom 'n deurtrapte skelm en bedrieër genoem, 'n vyand van alles wat reg is en iemand wat in die padvan die Here te staan! Pulus het gesê dat die Here hom gaan straf en dat hy tydelik blind sou word. Onmiddellik het Barjesus blind geword. "Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword. (Handelinge 13:12)
As Paulus en Barjesus slegs 'n teologiese debat gehad het, sou daar dalk niks gebeur het nie. Maar Paulus se daad het Sergius Paulus oortuig dat God almagtig is en ook dat Paulus se geloof opreg is.
Iets om oor na te dink. Hoe opreg is jou geloof? "'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood." (Jakobus 2:26)
Gebed: Hemelse Vader, U het ons hier op aarde geplaas om U te dien. Gee dat ander die vrug van ons geloof sal sien in die manier hoe ons na ander uitreik en daardeur u Naam verheerlik. Amen