Vers n dag - 25 Oktober
2. ʼn Koninkryk van melk en heuning
Hennie Symington
Skriflesing
Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen 'n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. Dit moet onder julle as 'n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan†Jos. 4:4-7
Had ons maar in Egipte gebly!
Verandering is nie maanskyn en rose nie. Vat maar die groot uittog uit Egipte op pad na die beloofde land. Vir die Israeliete was dit ʼn ontworteling van ʼn volk wat vir geslagte lank in Egipte gewoon het. En al het hulle swaargekry, het hulle minstens geweet wat om te verwag.
Verandering speel dikwels woer-woer met jou emosies. Israel verloor hier heeltemal perspektief. Hulle kyk hulle so vas teen die onmiddellikheid van hulle probleme dat hulle die doel van hulle swerftog uit die oog verloor. Skielik is vleispotte van die Egiptenare sonder enige hoop op 'n toekoms beter as 'n onafhanklike bestaan in 'n land vol van die spreekwoordelike melk en heuning.
Verandering is onvermydelik
Nie een van ons kan verandering ontsnap nie. As ʼn krisis jou tref en jy voel asof jou wiele wil afval, deel dit met God. Die Jode verbloem nie hulle ontsteltenis nie. Inteendeel, hulle spreek dit in geen onduidelike terme uit nie. God hoor hulle en voorsien in hulle onmiddellike behoeftes met manna en kwartels, want in elke omwenteling of stroomverandering is Hy steeds by ons en lei Hy ons nog altyd na ʼn beloofde land toe.
Bakens langs die pad
Herdenk die stasies van die veranderings wat jy in jou lewe te bowe gekom het soos Josua deur klipstapels te bou om jou en jou klein- en agterkleinkinders daaraan te herinner dat jy met God se hulp die “beloofde land†binnegaan het.
Gebed:
Here, verandering bring onsekerheid in ons binneste. Ons weet verandering is onafwendbaar maar ons is bang. Gaan U stap vir stap saam met my sodat ek ook uiteindelik kan sê: hier staan ek. Ek is daardeur. Amen