Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 9 September

HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS


DAG 4: GOD KAN VLOEKE IN SEËNINGE VERANDER

Deur Benescke Janse van Rensburg

[AGTERGROND: Soms raak ’n mens betrokke in die okkult sonder dat jy besef watter negatiewe effek dit op jou eie en ook op jou nageslag se lewens kan hê. Tog, deur Jesus se kruisdood het ons die outoriteit om enige vloek te breek sodat God dit in ’n dubbele seëning kan verander. Hier is twee getuienisse daarvan:]

Antonet: “Nadat ek op hoërskool uitgevind het dat die ou met wie ek uitgaan ’n satanis is, het ek dadelik die verhouding beëindig. Uit woede het hy ’n vloek op my lewe geplaas. Omdat ek nie geweet het wat presies die vloek behels nie, het ek met ’n onderwyseres gaan praat. Sy het nie baie kennis van die okkult gehad nie en gesê dat niks sal gebeur as ek dit nie glo nie.

“Oor die jare sou ek elke keer as iets sleg met my gebeur, ’n grap maak en sê dat dit is omdat ek ’n ‘vloek’ op my lewe het. Min het ek die krag van hierdie woorde van my besef (Sp. 18:21).

“Ná skool is ek met ’n wonderlike man getroud en ek het swanger geword. Hierdie swangerskap het egter in ’n miskraam geëindig. Dit was geweldig traumaties vir my. In my routyd het ek nader aan God beweeg. Ek het ’n geestelike kamp bygewoon waar ’n vrou met ’n profetiese gawe vir my gebid het. Sy het spesifiek gebid dat God die vloek op my lewe sou breek. Terwyl sy bid, het die Heilige Gees aan haar gewys dat iemand ’n vloek op my lewe geplaas het dat ek nooit kinders sal hê nie. Ek het onmiddellik geweet geweet dat sy na die ou op skool verwys het. Sy het die vloek gebreek en gesê dat God aan haar wys dat Hy vir my nog ’n kind sal gee en dat hierdie kind ’n belangrike rol vir Hom sal speel.

“’n Paar maande ná die kamp het ek weer swanger geraak. Vandag is my dogtertjie drie jaar oud. As ek na haar kyk wonder ek soms hoe anders my lewe sou uitgewerk het as ek nooit daardie vloek op my lewe gebreek het nie! Dankie tog vir God se vrymakende krag!”

Louise: “Nadat ons twee jaar lank probeer het om swanger te word, het ek en my man vrugbaarheidsbehandeling ondergaan. Dit was duur, maar ons was desperaat vir ’n baba van ons eie. Drie behandelings het egter misluk.

“Ek en my man het hierna op aanneming besluit. Drie keer het die aannemings op die laaste oomblik misluk. Dit het ons albei se harte aan skerwe gelaat. Ná die derde mislukte aanneming het ek by God gesmeek om die begeerte na ’n baba weg te neem as dit nie van Hom af was nie. In dieselfde tyd het ek by ’n pastoor se vrou uitgekom wat ’n profetiese gawe het. Terwyl ons gebid het, het God deur sy Heilige Gees aan haar gewys dat Satan ’n kontrak op my en my man se lewens gehad het. Albei van ons se ouers was by waarsêers en het glasie-glasie gespeel in die verlede. Die kontrak was dat ek en my man nooit kinderlaggies in ons huis sou hoor nie. Sy het gebid en dié kontrak is gebreek.

“Kort hierna het die welsyn ons gebel met die nuus dat ’n baba van agt maande uit haar ouerhuis verwyder is en dat sy ’n plek van veiligheid benodig. Ons het ingestem om haar in te neem. Min het ons besef dat ons ses maande later die geleentheid sou kry om hierdie baba as ons eie aan te neem! Vandag kan ek en my man ons lewens nie sonder Jo-Anne indink nie. God het eindelik ons gebede beantwoord!”

Mattheus 18:18 en Mattheus 16:19: “Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Natuurlik is dit nie te sê dat elke kinderlose egpaar ’n vloek het wat op hulle rus nie. Soms het God ’n ander rede vir hierdie besluit. Wat ons egter moet weet is dat God, deur Jesus se kruisdood, aan ons die outoriteit gegee het om oor die bose te heers en om vloeke te verbreek (Lukas 10:19). Wanneer ons dus ons eie en ons voorouers se sondes voor God bely en Hom in die Naam van Jesus Christus vra om die negatiewe patrone wat in ons familielyn herhaal (soos byvoorbeeld alkoholmisbruik, woede, owerspel, egskeiding, kinderloosheid, armoede, ensovoorts) te breek, is dit presies wat Hy doen (Eks. 20:5-6; 2 Kron. 7:14; Neh. 13:2). Antonet en Louise het die vrugte van hierdie vryheid beleef. Gaan jy dieselfde in jou familie doen? Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die outoriteit wat ons in die Naam van Jesus Christus het. Lei my daagliks om die regte keuses te maak sodat ek en my nageslag u seëning op ons lewens kan ervaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

GEBED AS DAAR ’N NEGATIEWE PATROON IN JOU FAMILIE IS:

Vader God, ek kom vandag in die Naam van Jesus Christus na u genadetroon. Ek bely (spesifieke gedrag) en vra dat U ons sal vergewe. Dankie, dat ek U kan vra om hierdie vloek in ons familie in die Naam van Jesus Christus te breek. Draai dit asseblief om in ’n seëning sodat my nageslag die vrugte kan pluk wanneer ons U dien. Help my om van vandag af die regte keuses te maak wanneer ek verlei word om te sondig sodat die bose geen verdere houvas op my of my nageslag se lewens sal hê nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

* Kyk gerus na foto’s van Antonet en Louise saam met hul babas op STORIES VAN HOOP se bladsy op Fbook.


NUUSBROKKIES:

  • Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:
  • Vrydag, 10 September 2010 by die Twelve Apostles naby Kampsbaai. Kontakpersoon: Hester Swanepoel by 021-4231328 of 0829234599.
  • Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of 042-2432080 of 0828755440.
  • Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.


TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 10 September Prev Next article: Vers n dag - 8 September Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.