Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 3 September

HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?


DAG 45: STEL JY GOD EERSTE . . . AL HET JY REDE OM TE OORREAGEER?

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Het jy jouself al in ’n situasie bevind waar jou medemens jou meer as genoeg rede gee om goed teen hom of haar uit te vaar? Het jy dit gedoen of het jy ’n oomblik stilgebly, die situasie opgesom en toe op die teenoorgestelde manier opgetree?

Op ’n onlangse besoek aan Johannesburg het ek weens verkeer net betyds op die lughawe aangekom. Toe ek by die toonbank aankom om in te boek, het ek die nuus gekry dat daar “net middelsitplekke” oor is. Ek weet nie van jou nie, maar met twee passasiers langs jou (wat soos rugbyspelers gebou is), kan ’’n mens soms effens engtevrees daar in die middel kry!

Toe ons eindelik die vliegtuig bestyg, wat effens vertraag was, het die gemoedere van sommige passasiers duidelik hoog geloop. Een só ’n persoon was die groot geboude man aan die paadjie se kant van die ry waarin ek moes sit. Hy en die ander man langs die venster het toe reeds gewag dat die vliegtuig moet opstyg.

Nadat ek met ’n glimlag aangedui het dat ek in die middel van hulle sit, het die man aan die paadjie se kant eers gelyk asof hy my nie hoor nie. Weer het ek vriendelik gevra. Dié keer het hy sy bene effens gelig as ’n teken dat ek by hom moes verbyskuif. Ek het geglimlag. Hy maak seker ’n grap. Dit was tog duidelik onmoontlik om dit te doen. Vir hom was dit egter nie ’n grap nie. Hy was ernstig. Toe hy ná ’n paar sekondes besef dat ek nie by hom kan verbyskuif nie, het hy geïrriteerd sy gordel losgemaak en opgestaan.

Die vliegtuig het opgestyg. In die lug het ek my skootrekenaar oopgeslaan en begin tik. Ek het sowat ’n uur gehad om ’n artikel klaar te maak wat ek moes deurstuur wanneer ons in Kaapstad geland het. Net toe ek goed op dreef is, besluit die passasier voor my om haar sitplek so ver moontlik terug te skyf. Met haar sitplek amper teen my en die twee fors passasiers langs my, was daar skielik amper geen plek meer om die rekenaar oop te vou nie.

Ek het vorentoe geleun: “Ekskuus tog, ek is besig om te tik. Kan jy jou sitplek effens opstel?” Stilte. ’n Nors kyk van haar af. Het sy my nie gehoor nie? Weer vra ek beleefd. “Excuse me. . .” Die keer draai sy om, om te kyk hoe naby sy aan my sit, voordat sy met ’n geligte wenkbrou kortaf antwoord: “Oh, that is unfortunate. . .” Ek wag dat sy haar stoel opskuif. Dit gebeur egter nie. Al wat volg is sy wat haarself op die teruggestote stoel tuismaak en deur haar tydskrif begin blaai. Ek kyk geskok na die situasie. Hoe kan enigiemand so onbeskof wees? Die keer byt ek hard op my tande om nie te reageer nie.

Dan skielik, daar hoog bo in die lug, tref dit my: Wat as God en sy engele my dophou om te sien hoe ek op hierdie onbeskofte optrede gaan reageer? Sal God tevrede wees met my reaksie?

Spreuke 25:21-22: “Wanneer iemand wat vir jou haat, honger is, dan moet jy vir hom kos gee om te eet. Wanneer hy dors is, dan moet jy vir hom water gee om te drink. Dan sal jy hom skaam laat word omdat hy jou haat, en die Here sal jou beloon.” (Die Bybel vir Almal)

Ons almal beleef van tyd tot tyd onbeskofte gedrag van rondom ons. Dalk van iemand in die werkplek, in jou huisgesin, in die parkeerterrein of selfs by ’n winkel se betaalpunt? Wat is jou reaksie is in sulke situasies? Sê jy die persoon goed sleg omdat hy of sy dit verdien of bly jy ’n oomblik stil voordat jy op die teenoorgestelde manier optree as wat die onbeskofte persoon verwag? Onthou: God hou jou ook vandag dop. Mag Hy tevrede wees met jou optrede.  Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my die krag gee om reg op te tree wanneer ek my in ’n moeilike situasie bevind. Lei my asseblief om nie te oorreageer nie, maar om eerder ’n sekonde langer stil te bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.


NUUSBROKKIES:

  • Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker by:
    • Vroue-oggend, Vrydag, 10 September 2010 by die Twelve Apostles naby Kampsbaai. Kontakpersoon: Hester Swanepoel by021-4231328 of 0829234599.
  • NUWE REEKS: Maandag begin ek ’n nuwe reeks getiteld Familie, Huwelik, Ouerskap. Indien jy enige vrae of getuienisse het, stuur dit aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.


TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 6 September Prev Next article: Vers n dag - 2 September Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.