Bring lof aan die Vader - 7 Julie 2014
Xanthe Hancox
Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 1 Timoteus1:15
Ek het Fanny Crosby verlede week genoem toe ek oor Blye versekering geskryf het. Nog een van haar liedere wat ons steeds sing. is Bring lof aan die Vader (To God be the glory). Fanny het Bring lof aan die Vader in 1872 geskryf en in 'n liedbundel opgeneem. Die meeste van die liedere in daardie bundel was baie gewild, maar hierdie lied het nie juis aftrek gekry nie – veral nie in Amerika op daardie stadium nie.
Die 19de eeuse evangelis en liedskrywer, Ira Stankey, was egter van mening dat die lied meriete het en hy het dit in sy bundel 'Sacred Songs and Solos', opgeneem wat hy saam met hom Engeland toe geneem het. Daar is die lied baie goed ontvang en in verskeie liedboeke opgeneem.
Dit was egter eers toe Cliff Barrows hierdie lied tydens 'n Billy Graham-veldtog in Nashvillegebruik het dat dit in Amerika gewild geword het. Tagtig jaar nadat die lied geskryf is, het dit een van die groot gunstelinge in verskeie Amerikaanse liedboeke geword.
'Bring lof aan die Vader‘ word as 'n loflied beskou, wat dit inderdaad is, maar dit is ook 'n lied wat van genade vertel. In die eerste strofe beskryf Crosby baie duidelik dat geloof al is wat benodig word om voor Hom te mag staan.
Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun,
vir liefde, genade, verlossing en steun -
dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan
maar ewig voor Hom as verloste kan staan.
Let daarop dat verlossing word beloof aan "elkeen wat glo" (Johannes 3:16) en ten spyte van ons vele sondes, ontvang ons vergifnis as ons in Jesus glo. Dit maak nie saak wie of wat ons is nie. Die misdadiger wat saam met Jesus gekruisig is het selfs daar aan die kruis vergifnis ontvang (Lukas 23:43) en Saulus van Tarsus word verlos van sy sondes al beskou hy homself as die grootste sondaar ooit (1 Timoteus 1:15).
Fanny Crosby was 'n godvresende vrou met 'n deeglike begrip van die belangrikheid van God se wonderlike genade en verlossing. Kom ons bring lof aan die Vader en verheerlik die Seun vir sy liefde, genade en steun.
Gebed: Here Jesus dankie vir u genade en vir die gawe van verlossing. Dankie vir die belofte dat wanneer ons in U glo, ons nie verlore sal gaan nie. Amen
Luister gerus hier na die lied in Afrikaans: https://www.youtube.com/watch?v=UoTIfoO4mWM