Heilig! Heilig! Heilig! - 4 Julie 2014
Xanthe Hancox
Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom. Openbaring 4:8
"Heilig, heilig, heilig God Almagtig," lees Reginald Heber se weduwee. Dit is die jaar 1826 en haar man is onlangs oorlede. Tussen sy papiere vind sy die woorde van een van die mooiste en kragtigste gesange wat ooit geskryf is.
Die verhaal lui dat Heber, 'n Anglikaanse predikant, liedere geskryf het in 'n poging om die sang van sy gemeentetjie e in Engeland te verbeter. Hierdie een is waarskynlik vir Drie-eenheidsondag geskryf. Dit mag dalk nie vir ons so klink nie, maar dit was nogal 'n radikale ding om te doen. Aan die begin van die 19de eeu het die Anglikaanse kerkowerhede net die sing van die berymde psalms amptelik in kerke toegelaat.
Gelukkig vir ons, het dit Heber nie afgeskrik nie. Alhoewel hy nooit die publikasie van sy lied beleef het nie, beskik ons oor hierdie wonderlike woorde:
Heilig, heilig, heilig,Heer, God almagtig
Groot is u troon, U is steeds met lof omring
heilig, heilig, heilig, liefderyk genadig -
u troon is steeds met lig en lof omring!
En dan in die eerste deel van die tweede vers lees ons:
Heilig, heilig, heilig, heerser vir ewig;
groot is u Naam U die Vader Seun en Gees.
Een woord wat drie keer herhaal word vertel ons so baie van die karakter van God. Twee herhalings beklemtoon 'n woord. Die woord word egter drie keer herhaal en dit dui op die oortreffende trap en vestig ons aandag op die oneindige heiligheid van God. Dit is die enigste karaktertrek van God wat op hierdie manier drie keer in die Bybel herhaal word. Ons lees nie in die Bybel: "Liefde, liefde, liefde, is die Here God, die Almagtige" of "Woede, woede, woede is die Here God, die Almagtige" nie. Net die heiligheid van God word drie keer herhaal
Heber se gesang beskryf 'n heilige God wat waardig is om te aanbid. God is waardig want Hy is die Skepper van alle dinge, en deur Hom bestaan alle dinge.
Dit is maklik om in te koop in die moderne filosofie dat ons in beheer is van ons lewens. Maar vanoggend word ons daaraan herinner om nie voorkeur te gee aan enigiets wat ons aandag sal aftrek van die ware en lewende God en van sy wil vir ons nie. God alleen is heilig en ons aanbidding waardig.
Gebed: U alleen is heilig, heilig, heilig en U is die Skepper van alle dinge. Vader, help my om dit te verstaan en om U te aanbid soos dit hoort. Gee dat my aandag nie vandag so op ander dinge gevestig sal wees dat ek nie op U kan fokus nie. Amen
Luister hier na 'n Engelse weergawe van HHeber se lied: https://www.youtube.com/watch?v=IR62awN7rhQ