Die lewe is kort - 25 Maart 2014
Neville Turley
Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe. Psalm 90:10
Hierdie Psalm word aan Moses toegedig. Hy het geweet hoe kort ons tyd op aarde is en hoe vinnig dit verby gaan. Moses het hierdie gebed in die laaste jare van Israel se tog deur die woestyn gebid. Die ouer geslag wat saam met hom uit Egipte getrek het, was besig om uit te sterf.Numeri 14:21-23.
Ons kan almal met Moses saamstem. Die lewe op aarde is baie kort en in vergelyking met die ewigheid slegs 'n oogknip. Moses eindig sy gebed op 'n positiewe noot: “Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand."
Nie een van ons weet hoe lank ons het om te leef nie. Dit is in die Here se hande. Al wat ons moet doen, is om te verseker dat ons in die tyd wat God aan ons gee, tot sy eer leef.
As ons dit wat ons veronderstel is om vir Hom te doen, vertraag, mag ons dalk nie genoeg tyd hê om getroue rentmeesters te wees nie. Dit is so maklik om so besig te wees met allerhande dinge dat ons geen tyd het vir ander sake nie.
Aristotle Onassis (1906-1975), die miljardêr skeepsmagnaat het 'n plan gehad om meer tyd te bekom. Hy het gesê: "Moenie te veel slaap nie want dan gaan jy eendag as 'n mislukking wakker skrik. As jy vir 'n jaar lank drie ure per nag minder slaap, het jy 'n ekstra maand en 'n half om suksesvol te wees."
As ons Onassis se plan volg, is ons miskien meer ure wakker, maar die onus berus steeds by ons om die tyd produktief in die diens van God aan te wend.
Tyd wat vermors is, is vir altyd verlore. Jy kan dit nooit terugkry nie.
"Dit (die lewe) is gou verby, ons vlieg na ons einde toe," sê Moses in hierdie Psalm. Ons moet egter nooit uit die oog verloor dat ons weet waarheen ons op pad is nie en aan Wie ons verantwoordelik is nie.
Onthou: een dag, baie binnekort, moet ons aan ons Verlosser verantwoording doen hoe ons die tyd gebruik het wat Hy aan ons gegee het.
Gebed: Almagtige Skepper, laat ek nooit vergeet dat U my gemaak het om U te dien nie. Wys my hoe om die tyd wat U aan my geskenk het, effektief tot u eer te kan gebruik. Amen