Hoogmoed is 'n sonde - 24 Maart 2014
Neville Turley
Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het:
oë wat straal van hoogmoed,
'n tong wat lieg,
hande wat met bloed bevlek is,
gedagtes wat met komplotte besig is,
voete wat net een koers ken, dié van die kwaad,
'n getuie wat lieg
en iemand wat rusie stook tussen broers.
Spreuke 6:16-19
Geen verrassing nie, boaan die lys "oë wat straal van hoogmoed" of in ander woorde "trots".
Mense is skuldig aan hoogmoed wanneer hulle so seker is van hulle eie vermoëns dat hulle feitlik geen respek vir God of hulle medemens toon nie. Hulle wêreld draai om hulle eie egos. Hoogmoed is 'n sonde wat herhaaldelik in die Bybel veroordeel word.
In sy eerste boek skryf Petrus: "Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want "God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade." Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het." 1 Petrus 5:5-6
Petrus praat hier uit eerstehandse ondervinding. Hy het geweet dat "op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val." Spreuke 16:18 Toe Jesus op die punt gestaan het om gearresteer te word, was Petrus die een wat trots gesê het: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.” Matteus 26:33
Later het hy deur te vloek en deur te sweer ontken dat hy Jesus ooit geken het. Matteus 26:74
Dit is maklik om Petrus vir sy aksie te veroordeel, maar Jesus het dit nie gedoen nie, nie toe nie en ook nie later nie. Petrus het egter bitter berou gehad dat hy Jesus verloën het. Die Bybel sê: "En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil." Matteus 26:75
In Johannes 21:15-17 lees ons dat toe Petrus die opgestane Jesus van sy liefde verseker het, het die Goeie Herder sy skape aan hom toevertrou.
Die spreekwoord sê hoogmoed kom tot 'n val, maar vir diegene wat dit wat hulle verkeerd gedoen het opreg belei, is daar geen veroordeling nie, slegs liefde en opheffing.
Gebed: Almagtige God, dankie dat deur u genade U u kinders deur u Heilige Gees nuut maak. Dankie dat, ten spyte van ons swakhede, U ons nuwe krag gee. Amen