Ons tyd is nie sy tyd nie - 17 Maart 2014
Neville Turley
Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 2 Petrus 3:8
Augustinus, een van die vroeë kerkvaders, het gesê dat tyd 'n gevolg van die skepping is. Voor die skepping het tyd, soos ons dit ken, nie bestaan nie.
Ons wat deel van die skepping is, is tydgebonde. Ewigheid het egter nie sulke beperkings nie. Die Here bereken nie tyd soos ons dit doen nie. Dit is miskien die rede hoekom dit vir so baie Christene te lank neem vir Jesus om weer te kom.
Maar daar is ook kwaadpraters wat die Christelike geloof minag. En hulle is altyd gereed om wanneer ons enigsins twyfel ons geloof te ondermyn.
Petrus waarsku die vroeë Christene reeds (2 Petrus 3:4) dat spotters sal vra, “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms?" Reeds in Petrus se tyd het mense al getwyfel dat Jesus weer sal kom en nou, in ons tyd, is daar steeds mense wat twyfel.
Vir ons is dit baie lank gelede dat Jesus die eerste keer na die aarde gekom het en aan 'n kruis gesterf het om ons van ons sondes te verlos. Was hierdie donker dag in die geskiedenis werklik so lank gelede? Minder as 'n miljoen dae het verloop sedert die kruisiging en die opstanding.
Petrus sê dat die geduld van God die rede vir hierdie vertraging in sy wederkoms is. "Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer." (2 Petrus 3:9)
Dit is ons uitdaging. Ons weet nie wanneer Jesus weer terugkom nie, maar totdat Hy kom, moet ons getrou en aktief in sy diens wees. Ons moet ons Christenskap uitleef en elke geleentheid aangryp om die evangelie met iemand anders te deel.
Gebed: Hemelse Vader, skenk deur u Heilige Gees aan ons die nodige krag om vas te staan in ons geloof. Gee dat deur dit wat ons sê en doen ons ander die weg na verlossing in Jesus Christus u Seun, sal wys. Amen