Wees gereed - 14 Maart 2014
Neville Turley
Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie. Lukas 12:40
Deur die gelykenis van die eienaar van die huis wat onverwags tuis kom, leer Jesus sy dissipels wat hulle toekomsgesindheid moet wees. Die groot geleentheid wat in die toekoms sal gebeur, is die wederkoms van die Seun van die mens en dit gaan op 'n onverwagte en onbekende tyd gebeur.
Hy vergelyk daardie gebeure met die van 'n huiseienaar wat na 'n bruilof toe is. Hy laat sy slawe by die huis agter om op sy terugkoms te wag. Hulle het nie geweet wanneer om hom terug te verwag nie en of hy met sy tuiskoms sou wou eet of nie.
Hulle was getroue slawe en het nie gaan slaap nie. Inteendeel, hulle het hulle moue opgerol om al die voorbereidings te tref sodat wanneer hy terugkom, hulle gereed sou wees om hom te ontvang.
Jesus sê dat hierdie eienaar sal so gelukkig met sulke bediendes wees dat Hy hulle aan tafel sal laat sit, en hy sal hulle bedien eerder as hulle vir hom.
Wat het hierdie gelykenis met ons te doen?
Ons weet dat Jesus, ons Eienaar, kom weer terug. "En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is." Johannes 14:3
Ons moet te alle tye gereed wees want Hy gaan terugkeer wanneer ons Hom die minste verwag. Dit beteken dat ons in afwagting op daardie wonderlike dag moet leef sodat wanneer ons Eienaar terugkom, Hy ons aktief in sy diens sal aantref.
Gebed: Hemelse Vader, deur genade en genade alleen is ons tot u diens geroep. Gee dat deur u Heilige Gees ons in die geloof ons roeping sal uitleef. Amen