Vers n dag - 12 Junie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 7 : STEL GOD EERSTE ... AL VOEL DIT ASOF HY NIE ANTWOORD NIE
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Ek het verlede week iets interessant beleef. Woensdagmiddag moes ek opvlieg Johannesburg toe omdat ons Donderdag aan die laaste episode van die huidige InPas-reeks (wat tans op KykNET uitgesaai word) sou skiet. Die spesiale episode waaraan al die kenners en aanbieders van die reeks sou deelneem is maande vooruit beplan en omdat ek een van die drie ankeraanbieders is kon ek die geleentheid eenvoudig nie misloop nie.
Maandagmiddag begin my keel egter seer raak. Ek bid dat God die keelseer sal wegneem. Dit gebeur nie. Maandagaand slaap ek met my geblokte sinus en keel wat al seerder raak amper niks nie. Teen Dinsdagmiddag is ek al bewerig en ek besef dat ek dadelik dokter toe moet gaan. Steeds bid ek. Steeds staan ek op God se beloftes dat Hy my sal genees. In die dokter se spreekkamer noem ek aan haar dat ek die volgende dag na Johannesburg moet vlieg. Haar oë rek. Met my oor- en sinusinfeksie is die kans groot dat ek met die lugdruk verskil in die vliegtuig se opstyg en land ’n oordrom kan bars.
Ek, die optimus, besluit dat niks vir God onmoontlik is nie. Ek hou aan bid vir genesing. Woensdagoggend voel ek egter sieker. Moet ek die vlug kanselleer? Ek besluit daarteen. Op die lughawe vra ek weer vir God om my ore te beskerm – en my sinus en vir my! Met ’n hart wat vinnig klop, klim ek met my pakkie kougom en ’n bottel water op die vliegtuig (ek het op google gelees dat dit help om die lugdruk beter te hanteer). Met vier stukkies kougom in my mond en die bottel water wat ek reeds half gedrink het, oorleef ek die opstyg gedeelte van die vlug. En met ernstige gebed en die res van die pakkie kougom en bottel water ook die landgedeelte van die vlug – sonder dat ek ’n oordrom bars.
Donderdagoggend, met die skiet van die episode, staan ek met ’n hees stem op. Ek is teleurgesteld. In die verlede het God my al verskeie kere van my griepsimptome genees. Waarom dan nie nou nie? Het Hy dan nie my desperate gebede gehoor nie? Nederig besluit ek om Hom te vra wat die oorsaak hiervan is. Onmiddellik ervaar ek hierdie vraag in my hart: “Benescke, gaan jy My steeds eerste stel selfs wanneer dit voel asof ek nie antwoord nie?â€
Job moes ook eens daardie vraag vir homself beantwoord het toe hy al sy besittings en sy kinders in ’n oogwink verloor het. Sy vriende vir hom gesê dit is God se straf omdat hy gesondig het. Sy vrou het hom aangemoedig om God te vloek sodat hy kon sterf. In Job 1:21 lees ons Job se reaksie nadat hy alles verloor het: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.†Hoewel Job ook vir God gevra het hoekom Hy dit toegelaat het, het hy God nooit verwyt vir wat in sy lewe gebeur het nie.
Nie een van ons is gevrywaar dat geen slegte dinge ons pad van tyd tot tyd sal kruis nie. Tog, wat is jou reaksie as jy vir maande gebid het dat God jou huwelik moet herstel en dit steeds in ’n egskeiding op eindig? Of as jy vir jare lank bid vir ’n baba en julle steeds sukkel om swanger te word? Of as jy steeds nie ’n lewensmaat het nie? Of jou geliefde steeds weens ’n siekte sterf? Raak jy kwaad vir God? Vloek jy Hom? Verwyt jy Hom? Of kies jy om Hom te prys te midde van jou hartseer en pyn? Kies jy om Hom steeds eerste in jou lewe te stel?
Donderdagaand was ek veilig terug in Kaapstad – sonder ’n gebarste oordrom. Die InPas-episode is wel met my hees stem geskiet, maar in my hart was daar ’n dankbare gevoel. Ek het iets meer van God leer ken. Hy wil hê dat ons die swaar tye in ons lewens moet gebruik om nader aan Hom te groei. En Hy wil hê dat ons Hom eerste in ons lewens sal stel – selfs al voel dit asof ons alleen deur die storms in ons lewens stap. Hy is immers die hele tyd reg langs ons!
Vader God, dankie dat ek kan weet dat selfs al verstaan ek nie altyd hoekom dit vir my voel asof U nie dadelik my gebede beantwoord nie, U elke gebed van my hoor. Help my om nie mismoedig te raak nie, maar om daagliks my oë op U te hou. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
* Die huidige InPas-reeks word Sondae, 11:30 uitgesaai met Dinsdag en Donderdagoggende, 7:00 as herhalings. Die spesifieke episode waarna ek verwys het word op 29 Augustus 2010 uitgesaai.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag- dagstukkie te adverteer, kontak gerus