Vers n dag - 8 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 5 : STEL GOD EERSTE ... BÓ NEGATIEWE GEDAGTES?
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Ek hoor onlangs die storie van ’n inbreker wat in die agterplaas deur twee groot waghonde verjaag is. In sy paniek het hy oor die muur geduik en reguit in ’n turksvyplant beland. Nadat die polisie die man in hegtenis geneem het, moes hulle eers ’n draai by ’n dokter maak om die dorings een vir een uit sy lyf te trek voordat hy opgesluit kon word.
Ek wil ons gedagtewêreld (veral wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan) met hierdie inbreker se lyf vol turksvydorings vergelyk. Wanneer storms ons lewens tref is dit kompleet asof ons in só ’n turksvyplant beland omdat ons gedagtewêreld deur pyn, negatiewe en/of depressiewe gedagtes oorheers word. Dit is normaal.
Tog, net soos hierdie dorings uit die inbreker se lyf getrek moes word om te verhinder dat dit ontsteek, moet jy ook die dorings in jou gedagtes identifiseer om dit te uittrek. Doen jy dit nie, is die gevaar dat dit sal ontsteek.
HOE VERWYDER ONS DIE DORINGS IN ONS LEWENS?
Stap 1: Herken die dorings: Is daar spesifieke negatiewe gedagtes wat oor en oor deur jou gedagtes maal? ’n Tipiese voorbeeld as jy onlangs jou werk verloor het, sal negatiewe gedagtes iets wees soos: “Ek gaan nooit weer werk kry nie†of “Ek sal nie my rekeninge kan betaal nie.†As ’n verlowing verbreek is of jy deur ’n egskeiding gaan: “Ek gaan alleen oud word†of “Ek gaan nooit weer ’n kans op geluk kry nie.†Hierdie gedagtes kom nie van God af nie. Gaan terug na sy Woord en vind beloftes wat van toepassing is op jou situasie.
Stap 2: Trek die dorings uit en ontsmet die wonde: Wanneer negatiewe gedagtes by jou opkom, moet jy dit vasvat en met God se beloftes vervang. Byvoorbeeld: As jy voel asof jou huwelik op die rotse is of jy nooit jou verhouding met jou kind sal kan herstel nie, herinner jouself aan die beloftes in Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.†Of in Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Ontsmet die wonde met God se Woord.
Stap 3: Plak die pleister bo-op die wond: Met die wete dat die doring verwyder is en die wond ontsmet is, kan jy rustig terugsit wanneer ’n pleister daaroor geplak is omdat dit onder die pleister genees. Net so, as jy ’n situasie met God bespreek het en jy dit “ontsmet†het, kan jy ook terugsit met die wete dat God in beheer is om jou hart te genees – selfs al voel jy nog soms hartseer. Kies om Hom te loof en te prys te midde van jou storm met die wete dat Hy die deurbraak in jou lewe kan en wil bewerk.
Is daar vandag dorings in jou lewe? Vat dit vas, trek dit uit, ontsmet die wond en plak ’n pleister bo-op. Stel God eerste, bó jou seer en negatiewe gedagtes. Jy sal verbaas wees oor hoe Hy, ons Geneser, ook dinge in jou lewe ten goede sal laat meewerk.
Vader God, baie dankie dat ek elke vrees in my hart na U kan bring en dat ek U kan vra om my vrees in my grootste geloof te omskep. Lei my om daagliks met groter geloof te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus