Vers n dag - 10 Junie
Om jou in God te verlustig!
Hennie Symington
In die ou dae toe aanneming en voorstelling in die kerk byna so belangrik soos jou een en twintigste verjaarsdag was, het elke katkisant die antwoorde op die vrae in die Heidelbergse Kategismus op hulle vingerpunte geken. Een van die vrae was: Wat is die hoofdoel van die mens se bestaan op aarde? Die antwoord wat jy hierop uit jou kop moes opsê.was: Die mens se hoofdoel is om God te verheerlik en jou ver ewig in Hom te verlustig.
Wanneer laas het jy jou in God verlustig soos die nuwe bekeerling wat drie keer “Hiep Hiep Hoera†in plaas van “Halleluja†geskree het toe hy asem skep na sy onderdompeling. Kom ons wees eerlik: ons verlustig ons eerder in ʼn opwindende rugbywedstryd of ʼn doelskop van Bafana Bafana in die wêreldbeker as in die grootste gebeurtenis in ons Christengeskiedenis – die geboorte en opstanding van Jesus Christus. Kyk maar hoe stroom die mense na die stadions toe om hulle sportgode te aanbid.
“Ja maar,†sê party mense, “hierdie uitbundige vreugde is van korte duur en sommer oppervlakkig. Ons vreugde lê baie dieper.†Nou wonder ʼn mens hoe op dees aarde moet iemand wat soekend is na ware vreugde in God dit moet vind as hy dit nie by ons kan raaksien nie? Waarheen sou jy so ʼn persoon stuur om te sien hoe lyk iemand wat hom of haar onophoudelik in God verlustig?
Vuvuzela’s vir Christus!
Wat het geword van ons goddelike vreugde? Is ons skaam daaroor of dink ons Sondag in die kerk is waar dit hoort? Het jy dan nie geweet nie? Of glo jy dit nie? God het Hom in Jesus Christus met die wêreld versoen. Dit alleen is rede genoeg om jou onbeheerste genot in God sigbaar en hoorbaar te maak. So kry jou vuvuzela gereed en maak ʼn heilige geraas vir Christus!
Gebed vir vandag
Here, ek maak maklik ʼn groot geraas as dinge my nie pas nie. Maar wanneer ek u moet loof en prys is ek tjoepstil. Maak ons tonge los vir u.
Vers ʼn dag
3.Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier! 4 Prys hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite! 5 Prys Hom met simbale, prys hom met galmende simbale! 6 Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here! Ps. 150