Vers n dag - 8 Junie
As ons wandel met weëmoed
Hennie Symington
Dis geen geheim nie. Die wêreld is vol lopende gewondes – mense wat seergekry het en hulleself met moeite voortsleep deur die lewe. Ons land is vol mense met afvlerke, gebroke harte, gebroke liggame, gebroke verhoudings en gebroke drome.
Wanneer jy die koerant oopmaak speel hierdie nimmereindigende menslike drama hom voor jou af: Mense wat misken, mishandel, verlaat, verstoot en vergeet word. In elkeen van hierdie dramas is daar een of meer spelers betrokke en jy as buitestaander is nie onaangeraak deur die menslike tragedie waarmee jy van dag tot dag gekonfronteer word nie. John Donne, die 16e eeuse digter en predikant het tereg gesê: “Moenie vra vir wie die doodklok lui nie; dit lui vir jou.†Ons is inderdaad almal vasgevang in hierdie menslike drama.
God staan by ons
Die troos is: God sien dit ook raak. Trouens, so betrokke is Hy by ons wel en weë dat Hy die Heilige Gees in ons lewens instuur om die flenters van ons vernietigde lewens op te ruim en in die wind strooi sodat ons weer nuut en vry voor God en mens kan staan.
God het ons geskep om bemin te word. Hy wil ons liefhê en terselfdertyd wil Hy hê dat ons mekaar moet liefhê en aanvaar, want daarsonder is daar geen geluk en vrede nie.
Vra vir God om jou ook ʼn kosbare sieraad in ruil vir flenters te gee. Sê vir jouself hardop: “Ek is gemaak vir liefde. God het my lief en wil hê dat ek Hom, myself en ander moet liefhê en aanvaar. “
Gebed vir vandag
Gees van God, neem die as van my verlede en vervang dit met skoonheid. Maak my nuut en vry voor U en my medemens.
Vers ʼn dag
DIE Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; (1a) ... 3 om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as,..Jes. 61:1a,3a (1933/53-vertaling)
Uit: Blom tussen dissels deur Hennie Symington (Lux Verbi)
Â