Xanthe Hancox

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.  Psalm 37.4

My seuntjie het onlangs twee geword, en vir sy verjaarsdag het ek sjokolade kolwyntjies gebak en hom toegelaat om te 'help' met die versiering daarvan. Dit is dus geen verrassing dat "coclatel" nou sy gunsteling kos en aktiwiteit is nie. As hy daarvan hou, moet dit mos goed wees vir hom, of hoe? Natuurlik nie! Ek gaan by sy volgende tandartsafspraak heelwat hê om te verduidelik, en van ons kombuis wil ek nie eers praat nie.

Ons teks vir vandag word dikwels misverstaan om te beteken dat God ons alles sal gee wat ons wil hê as ons ons vreugde in Hom vind. Maar as in aanmerking geneem word dat die kind in elkeen van ons dikwels iets wil hê wat nie goed is vir ons nie, moet ons besef dat hier nie verwys word na die verkryging van alles wat ons wil hê nie, maar wel na die verkryging van 'n nuwe stel begeertes.

Die Bybel sê ons begeertes is van nature sondig en vol bedrog (Efesiërs 4:22). Ons kan nie ons begeertes vertrou nie. Ons benodig die Here om aan ons nuwe, gesonde begeertes te gee. Maar hoe? Psalm 37 vertel ons hoe. Vind jou vreugde in die Here. Soek Hom. Ken Hom. "Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is" (Efesiërs 5:10).

Om ons in staat te stel om God so intiem te ken as wat Hy verlang, het Jesus Christus onder ons kom woon sodat ons Hom persoonlik kon ontmoet. Hy het sy liefde in vele maniere bewys, ons geleer en aangespoor om vir die koninkryk van God te leef. Hy het vir ons gebid, sy eie lewe opgeoffer as betaling vir ons sonde, en Hy het opgestaan as Oorwinnaar oor sonde en die dood – alles ter wille van ons. Om God te ken, is om Jesus te ken, en ons vreugde in Hom te vind.

Wanneer ons ons vreugde in die Here vind, sal ons vind dat ons doen wat God verlang. Wanneer ons weet hoe die Here met mense omgaan, sal sy weë ook ons weë word.

Gebed: Liewe Heer, ons grootste vreugde vind ons in U. Gee dat ons in alles wat ons doen aan U blydskap sal verskaf. Amen