Xanthe Hancox

Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.  Psalm 51:12-14

Psalm 51 is een van die sewe boetepsalms, of 'n psalm wat groot berou oor sonde beskryf. In die opskrif van hierdie psalm is dit duidelik dat dit 'n gebed van Dawid is, nadat die profeet Natan met hom kom praat het oor sy sonde met Batseba (lees die volle verhaal in 2 Samuel 11 en 12).

Nadat Natan, 'n profeet van die Here, gehoor het wat Dawid gedoen het, besoek hy Dawid en vertel hom die storie van 'n ryk man wat 'n arm man se enigste lammetjie gesteel het. Dawid raak woedend, en sê dat hierdie ryk man gestraf moet word. Natan sê dan aan Dawid dat hy die man is. Dawid besef dan geskok wat hy gedoen het. Dawid is berouvol en hy sê reguit dat hy teen die Here gesondig het. Hy probeer nie sy sonde regverdig nie en hy maak nie verskonings daarvoor nie. Hy wend hom doodeenvoudig tot God en bely sy sonde.

Ons lees Dawid se belydenis in Psalm 51. In hierdie psalm begin Dawid met 'n gebed vir homself (verse 3 en 4) en eindig die psalm met 'n gebed vir Sion. Tussenin is daar 'n duidelike belydenis van sonde (verse 5-8), 'n versoek om vergifnis (9-11), 'n versoek dat God hom sal reinig (verse 12-13) en 'n belofte om God te loof en prys (verse 16-19).

Dawid gebruik nie die hele psalm om sy sonde te bely nie. Hy doen dit baie duidelik reg aan die begin, maar dan beweeg hy aan. Hy vra die Here om sy gees te vernuwe en aan hom 'n rein hart te skenk en dan loof hy die Here. Hoe wonderlik is dit nie dat ons 'n God dien wat ons sondes waarlik vergewe!

Gebed: Ek doen nie altyd wat ek veronderstel is om te doen nie. Ek doen dinge wat ek nie behoort te doen nie. Vergewe my asseblief. Ek weet ek het gesondig. Was my asseblief, reinig my en skenk aan my 'n nuwe hart. Dankie dat U my liefhet, selfs wanneer ek misluk. Ek weet dat U my weer van die sonde kan genees. Amen