Xanthe Hancox

Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei. Sela Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!  Psalm 67:4-6

Hoekom eis God dat ons Hom moet loof? Hoekom is hierdie voortdurende gee van komplimente, goedkeuring en verering, 'n vereiste van die God wat ook sê dat Hy niks van ons benodig nie?

CS Lewis het gesê (vry vertaal): "Dit is vir ons lekker om dit wat ons geniet te prys want die lofprysing is nie net 'n uitdrukking van ons genot nie, maar die voltooiing daarvan. Dit is frustrerend om 'n nuwe skrywer te ontdek en dan is dit nie moontlik om enigiemand te vertel hoe goed hy is nie, of om skielik, na 'n draai in die pad, op 'n vallei tussen die berge af te kom met onverwagse skoonheid en dan daaroor stil te bly want die mense by jou gee nie 'n bloue duit daarvoor om nie, of om 'n goeie grap te hoor en dan is daar niemand om dit mee te deel nie."

Wanneer jy slegs in terme van komplimente, goedkeuring en verering oor lof nadink, is dit maklik om te vergeet dat die grootste aspek van lof genot insluit! Daar is 'n duidelike verband tussen hoe ons iets geniet en die lof wat uit hierdie genot voortspruit. Dit is inderdaad moeilik om die mate wat jy iets loof en prys, te skei van die genot wat jy daaruit put. Lofprysinge is onafskeidelik deel van suiwer genot.

Die Here wil nie hê dat ons Hom loof en prys ter wille van Hom nie, maar om ons eie onthalwe. 'n Vereiste om Hom te loof en prys is 'n vereiste vir ons blydskap en geluk. God het ons lief en verlang volkome blydskap vir ons wat slegs bekom kan word deur Hom te ken en te loof – die grootste, magtigste en ontsagwekkendste Wese van alle wesens.

Gebed: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! Gee dat ek vandag, en elke dag, jubel omdat ek U ken en my blydskap met ander deel. Amen