Louise Gevers

Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

Jakobus 1:25

Die vier van Vryheidsdag het vanjaar 'n ironiese smaak, met so baie van ons wat in ons eie huise ingeperk is. Tog, kan dit ons miskien beter toerus om die belangrikheid van die vryheid wat hierdie dag vir ons land meegebring het te waardeer, en ook om te bepaal wat dit vir ons lewens beteken: vryheid om te stem, vryheid van beweging, grondwetlike regte wat geen beperking plaas op waar ons bly of op ons opvoeding of ons huwelike nie. Ons beskik oor godsdiensvryheid in 'n regverdige samelewing, vry van vooroordeel. Bring al hierdie dinge egter die verlangde vervulling?

Ons beskik miskien oor 'n groot hoeveelheid vryheid, terwyl ons innerlike steeds vasgevang is. Die teenoorgestelde mag egter waar wees. Ons mag miskien op baie gebiede ingeperk wees, miskien selfs in die tronk, en tog innerlike vryheid ken en 'n lewensdoel nastreef.

Onlangs het ons twee honde, uitgelok deur die bure se kat, in die area tussen ons voordeur en die sekuriteitshek beland en tot hulle groot vreugde planthouers daar gevind, net reg om in te grawe. Die wind het die voordeur toegewaai en hulle was in die area vasgevang. Onbewus dat hulle iets verkeerd doen en op verbode terrein is, het hulle die vryheid en onafhanklikheid ten volle geniet. Hulle het eers besef hulle is vasgevang toe hulle nie by die tuin kon uitkom nie. Ons moes toe met die gemors deel! Ek wonder of God partykeer so oor ons voel?

Ons liggame benodig vryheid van beweging ten einde ten volle te funksioneer – soos baie mense tydens hierdie grendeltydperk op kreatiewe maniere doen – maar ons is nie net liggaam nie; ons is ook verstand en gees. Soms is ons verstand en gees ingeperk en het 'n groter behoefte aan vryheid as ons liggaam, maar ons is so besig met ons fisiese behoeftes dat ons die res verwaarloos. En dan wonder ons hoekom ons rusteloos is en nie vervulling beleef nie.

Jakobus moedig ons aan om ons te "verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak", iets wat Paulus voortdurend gedoen het. Paulus het gesê dat sy vryheid nie afhanklik is van sy fisiese status nie. Dit was vir hom moontlik om uit die tronk te sê: "Wees altyd bly in die Here! … Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. … van alles het ek ondervinding: … Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:4,6,12-13)

Paulus het krag ontvang omdat hy Jesus geken en geweet het dat Hy hom vrygemaak het; vry van die las van seshonderd en elf wette en sy eie godsdienstige ywer. Inderdaad, Jesus het hom op die pad na Damaskus vrygemaak van al sy sonde en, saam met dit die kettings van die wet verwyder, wat slegs Christus kon vervul. Dit het Paulus in staat gestel om die nuwe, volmaakte wet van liefde wat lewe gee te aanvaar. (Lees Psalm 19:8). Paulus het vreugdevolle, betekenisvolle vryheid ondervind.

"Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees." (Johannes 8:36)

Gebed: Here Jesus, U vryheid voorsien in al ons behoeftes en maak ons waarlik vry. Amen