Louise Gevers

… en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 2 Kronieke 7:14

Ons leef weens sonde in 'n gebroke wêreld en in 'n land wat genesing nodig het. Oral in ons land en in die wêreld kom mense byeen om tot God om hulp te roep.

Nederigheid en ootmoed is wat God verlang sodat Hy werklik 'n impak op die lewens van sy kinders kan hê. "Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God." (Miga 6:8) Jesus is die perfekte model van nederigheid en ootmoed en dit word ook gevind in die lewens van mense in die Bybel, maar dit is nie maklik om na te boots nie want dit moet uit die hart kom.

Wanneer ons onsself verootmoedig, moet ons erken wat ons verkeerd gedoen het en hoe ons dit gedoen het. Deur ons eie wil te volg het ons misluk. Ons moet erken dat ons nie self die oplossing het nie en ons vals trots wat ons verblind en ons vrede vernietig het, versaak. Dit is nie maklik om te doen nie, maar doen ons dit, sal God ons verhoog: "Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog." (Jakobus 4:10)

Die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32) illustreer die uitnodiging tot gebed wat God deur Salomo tot sy volk rig. Die jonger seun het sy gesindheid van dankbaarheid verloor en dit verruil vir 'n epiese swerftog van selfbevrediging, 'n pad wat hom na 'n leefstyl gelei het wat net eensaamheid en vernietiging tot gevolg gehad het.

Die wonderlike is egter dat hy tot sy sinne gekom het en erken wat hy verkeerd gedoen het. Hy het homself verneder, weggedraai van sy rebelsheid en huis toe gegaan om sy vader om vergifnis te gaan vra. Die verandering van sy gesindheid het vir hom ware vryheid gebring, vryheid van die slawerny wat die sogenaamde vryheid wat hy nagejaag het, tot gevolg gehad het. Sy vader het hom herstel, nie as 'n bediende nie, maar as sy eie seun.

Op dieselfde manier wil God ons herstel, beide as individue en as 'n land. Sy uitnodiging tot gebed met 'n duidelike voorskrif en belofte, is vandag nog net so geldig vir ons as wat dit vir Salomo en die koninkryk van Israel was.

Nederigheid en ootmoed open die weg tot selfkennis, belydenis en vergifnis, en dit verbind ons met die hart van God waar ons ware vergifnis, vryheid en genesing vind. Laat ons hierdie tyd gebruik om die hart van God te leer ken.

Gebed: Liefdevolle Vader, skenk ons die genade om onsself te verootmoedig en volgens u volmaakte voorskrif te bid, sodat ons waarlik reg sal laat geskied, liefde en trou sal bewys en elke dag in ootmoed met U sal wandel. In Jesus se Naam. Amen