Louise Gevers

Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God. … Psalm 40:2-4

Om elke oggend wakker te word in 'n wêreld wat verander het en waar ons ingeperk is tot 'n beperkte ruimte is 'n uitdaging, veral vir diegene wat gewoond is aan meer beweeglikheid. Die hantering van ander komplikasies in die "nuwe normaal" kan ons ook oorweldig en ons selfs in ons huise onseker laat voel. Dit help ons egter om die psalmdigter se gemoedstoestand binne sy probleme beter te kan verstaan, en om moed te skep wanneer ons besef dat God tot sy redding gekom het.

Wat nou, terwyl ons wag, soos 'n ewigheid voel, sal gevolg word deur 'n seisoen wanneer dit uiteindelik vir ons moontlik sal wees om te kan terugkyk; maar dit sal ook, afhangende van hoe ons die tyd en die uitdagings hanteer het, 'n diep uitwerking op ons hê. Ons gaan ons in 'n heel ander omgewing bevind en ons moet daarop voorbereid wees. Wat nou 'n groot impak op ons het, en sal bepaal hoe ons uiteindelik anderkant gaan uitkom, hang af van waar ons hulp soek.

Dawid het "gesmag na die hulp van die Here", omdat God hom baie kere vantevore gehelp het en hy geweet het hoe God werk. Dawid is nie teleurgestel nie, want toe God sy hulpgeroep gehoor het, het Hy deur sy krag Dawid op die regte tyd uit die gevaar verwyder en hom na veiligheid gebring. God het toe sy hart met blydskap gevul – tot so 'n mate dat hy 'n nuwe loflied tot Hom kon sing. Die beste ding wat Dawid kon doen, was om God te vertrou.

Wanneer ons in geloof na die huidige situasie kyk, is dit moontlik om baie positiewe dinge raak te sien. God se krag is nie beperk nie en sy Gees word nooit ingeperk nie; Hy help diegene wat tot Hom om hulp roep. Dit is 'n tyd vir potensiaal om gekanaliseer te word. Hy kan ons krag gee en ons inspireer net soos Hy gedoen het met Josef, Paulus, Corrie Ten Boom, en vele ander gelowiges wat in die tronk was en deur die eeue so baie gely het. Anders as die geval met hulle, word ons vryheid egter vir ons eie beskerming ingeperk.

Paulus het, terwyl hy in Rome in huisarres was, briewe aan drie gemeentes geskryf – een elk aan die Efesiërs, die Filippense en die Kolossense – en ook een aan Filemon, om die jong gemeentes aan te moedig om te sien hoe God deur Christus in die krag van die Heilige Gees werk. Sou Paulus in sy besige preek- en reisskedule die nodige tyd hiervoor kon vind as hy nie ingeperk was nie?

Indien ons hierdie tyd goed gebruik en dit as 'n voorbereidingstyd aanvaar, mag ons wel hierdie grendeltyd te kort vind, en wanneer hierdie seisoen verby is en God ons weer "op vaste grond laat loop met 'n nuwe lied in die mond" om Hom te loof, ons geestelik veel ryker is.

Gebed: "Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! “ Amen. (Filippense 1:2)