Benescke Janse van Rensburg

Het jy al ooit in jou waarde getwyfel? Hier is ’n getuienis wat dalk kan help:

“Ek het myself gehaat as ek in die spieël kyk,” vertel die vrou wat oorkant my in die radio-ateljee sit. Ek is geskok. Sy is beeldskoon. Haar donker hare hang glansend op haar skouers. Haar helder blou trui bring haar oë uit. Hoe is dit moontlik dat sy nie van haarself kon hou nie? “Die kinders op skool het my scar face genoem na daardie ongeluk.” Dit was ’n ongeluk waarin Eldine MacRobert se beste vriendin gesterf het. Sy is met ’n sny op haar voorkop gelaat. Hulle was 16 jaar oud.

As tiener was Eldine kwaad vir God. Hoekom het Hy nie haar vriendin se lewe gespaar nie? In haar woede, seer en teleurstelling het sy haar rug op God gekeer. Dié besluit het haar in ’n diep depressie laat verval.

Nou, naby aan haar 40ste verjaarsdag, is die merke op Eldine se voorkop baie ligter en haar sprankelende persoonlikheid en selfversekerdheid verklap dat sy êrens in haar lewe genesing moes ervaar het. “So, waar was jou draaipunt?” vra ek. “Dit was ’n lang en moeilike pad,” vertel sy. “Eers toe ek God werklik ontmoet het en Hom begin vra om my te help om myself deur sy oë te sien, het ek waarlik vry begin leef!”

Vandag werk Eldine as ’n persoonlike stilis met die doelwit om kliënte te help om na hulself te kyk deur God se oë. “Voordat ek ’n kliënt sien, salf ek die spieël met die gebed dat hy of sy hulself deur God se oë sal sien,” vertel sy. Telkens getuig kliënte dat God hierdie gebed inderdaad beantwoord het.

In Psalm 139:16-18 lees ons: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” In Jesaja 49:16 herinner God ons: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer . . .” En in Jeremia 29:11 sê Hy: “Ek weet wat Ek vir julle beplan . . .  voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

Die vyand se strategie is steeds dieselfde. Hy wil ons deur ’n vuil bril na onsself laat kyk sodat ons in ons waarde as ouer, huweliksmaat, werknemer, besigheidspersoon of selfs die leier van jou gemeente twyfel. Die waarheid is dat God vir ons elkeen planne van voorspoed en nie teenspoed het nie.

Kom ons herken die strik as ons volgende keer daarin trap en kom ons vra God doelbewus om ons te help om onsself deur sy oë te sien. Dít verander alles. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my uniek geskape het. Help my om my waarde deur U oë te sien en op te hou om myself met ander te vergelyk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto van Eldine:
  o www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.