Louise Gevers

Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”  Lukas 10:41-42

Ons dink soms dat stres net aan die vinnige leefstyl van ons tyd behoort, maar dit is dikwels die manier hoe ons 'n situasie hanteer wat ons onder druk plaas. Wanneer ons ons prioriteite reg het, is die stres minder en het ons vrede, selfs al verg dit opoffering om dit te doen. Daar is dikwels 'n dun lyn tussen reg en verkeerd en op die oog af lyk beide goed.

Marta bevind haar in so 'n situasie, Sy het besluit om Jesus in haar huis te verwelkom, na alle waarskynlikheid om Hom gasvryheid te bewys en ook om na sy leringe te luister. Sy het egter gou ontdek dat sy so besig was om 'n maaltyd vir Hom en sy dissipels voor te berei en hulle te bedien – geen geringe taak nie – dat sy nie tyd gehad het om met Hom te spandeer nie.

Die feit dat sy al die werk moes doen terwyl haar suster aan die voete van Jesus sit en na alles luister wat Hy sê, het haar kwaad gemaak. Toe sy by Jesus oor Maria se gebrek aan hulp kla en Hom daarop wys dat Hy nie daaroor omgee nie, word sy, in stede van Maria, betig: "Maria het die beste deel gekies, … " Marta se hart was nie gefokus nie, maar Maria was op die regte pad.

Jesus prys Maria se besluit om aan sy voete te sit, maar wys Marta daarop dat, omdat Hy nie haar eerste prioriteit was nie, sy haar nou in 'n situasie bevind wat sy self geskep het. Jesus probeer nie om haar beter te laat voel deur te sê sy moenie bekommerd wees nie want sy het 'n heerlike ete voorgesit en Hy sal met Maria praat omdat sy nie gehelp het nie. As Marta ook aan sy voete gesit het, kon Hy almal gevoed het soos die geval was met die vyf duisend. Soms in die geval van geloofsake het ons 'n oorontwikkelde sin van ons verantwoordelikhede en omdat ons verkeerd fokus, beland ons met hope stres.

Om Jesus te volg beteken dat ons van die begin tot die einde regte keuses moet maak. Kom ons vra Hom om ons te help om ons prioriteite reg te stel sodat ons nie, selfs met die beste van bedoelings, verkeerde keuses maak nie. Hy is aan ons kant.

Gebed: Here, ek bely dat fokus op die regte prioriteite en 'n vermoë om te kan onderskei selfs met my beste bedoelings soms by my ontbreek. Help my om nie my tyd vol te maak met dinge wat na baie belangrike werk lyk nie, maar om aan u voete te sit todat U my op die regte pad kan lei en ek u vrede kan ervaar. Amen