Louise Gevers

“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.  Matteus 7:7-8

Ons lei baie komplekse lewens en om elke dag wanneer ons voor nuwe uitdagings te staan kom, die regte pad te vind, kan baie opwindend of uitdagend wees. Ons besef, soos die geval met Marta en Maria in gister se stuk, elke keuse wat ons maak het gevolge wat ons of gestres of vol vrede laat.

Terwyl ek nou een aand saam met my gesin na 'n gewilde bakprogram op TV kyk, het dit my getref hoe, ten spyte van die beoordelaars se duidelike instruksies, elke bakker nadat hulle almal dieselfde instruksies ontvang het, 'n ongelooflik verskillende weergawe van 'n spesifieke nagereg gelewer het. 'n Gewilligheid om te leer en om instruksies noukeurig te volg, was hier baie belangrik. In alle lewensomstandighede is dit belangrik om goeie besluite te neem wat jou lewe positief sal beïnvloed en jou in staat sal stel om in kennis en begrip te groei.

Dit is nie 'n natuurlike vermoë by die mens nie. Ons moet soms aanhou vra, en aanhou klop anders misluk ons soos die Sadduseërs vir wie Jesus beskuldig het: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie." (Matteus 22:29)

Regdeur die Bybel is daar duidelike riglyne en voorbeelde van die ondervindings van mense soos ons wat probeer het om dit te volg. Selfs die helde van die geloof moes dit uitwerk. Hoe meer ons lees, hoe meer word ons bemoedig, want alhoewel hulle nie altyd die eerste keer geslaag het nie, was God tog aan hulle kant tot die einde.

Moses was nog besig om te bid toe die faro en sy leërmag al amper die Israeliete bereik het: "Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek." (Eksodus 14:15) Ons kan nie steeds op ons knieë bly besig om te bid wanneer die Here reeds vir ons die antwoord gegee het en dit ons beurt is om te reageer nie. Ons kan ook nie dat Petrus as gevolg van ons ongeloof by die deur staan en aanhou klop nie. (Handelinge 12:11-15)

Wanneer ons ons beperkinge en ons behoefte aan God se leiding erken, nader ons in nederigheid tot Hom en vra dat Hy ons elke dag sal lei. Die sleutel is om nie ons eie agenda te hê nie, maar om Hom as Vader en God te aanvaar en om Hom toe te laat om ons harte met sy volkome wysheid en kennis te vul. Ons moet vir spesifieke sake bid en geloof hê wanneer ons leer hoe groot Hy is en sien hoe Hy in verskillende situasies werk. En ons moet, soos Jakob, met Hom stoei totdat ons sy seën en vrede ontvang.

Dit is 'n volgehoue, dinamiese verhouding.

Gebed: Hemelse Vader, U alleen is volkome wys en wanneer ek U daarom vra, voorsien U mildelik in my behoeftes. "Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue." (Psalm 143:8) In Jesus se Naam bid ek dit. Amen