Ben Fourie

“Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.” Jesaja 9:1

Voordat die mens ontdek het hoe om vuur te benut het ons voorvaders snags in die donker beangs vir roofdiere in grotte weggekruip. Die mens het steeds ‘n diepgesetelde vrees vir die donker. Ons besweer dit met soveel lig as moontlik. Straatlampe, helder ligte in elke kamer, lampies by ons kinders se bedjies en flitse om in die nag buite te loop, want ons oog se samestelling is nie vir nagkyk nie, ons is wesens van die dag. Ettienne le Roux skryf in een van sy boeke dat daar geen angs groter is as die vir die donker wat jy weet jy nie self kan verdryf nie.

In die eerste 39 hoofstukke van die boek Jesaja waarsku die profeet teen die gevaar wat sy volk loop om deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer te word vanweë hulle ongeregtigheid, hoogmoed en hulle vertroue op ander nasies in plaas van op God. Hy gebruik dan die metafoor van ‘n donker land om te wys op hulle vormgodsdiens, versuim om die hulpbehoewendes te versorg en ander oortredings. Die geestelike donker het oor Juda toegesak. Dit wat die mens die meeste vrees het reeds daar gebeur en die mens is hulpeloos in hierdie nag vasgevang.

Dan gryp God self in en sy volk hoor die ongelooflike aankondiging dat selfs hulle wat in die donker loop ’n groot lig sal sien, dat daar oor die donker land wat hulle self geskep het ‘n lig sal skyn wanneer ‘n spesiale persoon uit die stam van Dawid na vore sal kom om te regeer en vrede te bring vir al die nasies.

Daar is al baie boeke geskryf oor watter tydperk en van wie dit is wat Jesaja hier praat. Het die volk werklik so vroeg al ’n Messias verwagting gehad? Waarskynlik wys Jesaja hier na gebeure in sy eie leeftyd, maar ons glo dat Jesaja hier ook ’n boog span oor meer as ses eeue wat nog sou verloop tot by die geboorte van God se Seun oor wie in die Evangelie volgens Johannes hoofstuk 1 vers 4 en 5 so getuig word: “In Hom was daar lewe en die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Hy sou kom om die mens te red uit sy self geskepte donker land en so ons vrees vir die ewige duisternis sonder God, die tweede dood waarvan die Bybel praat, finaal weg te neem.

Gebed: Baie dankie dat al is ek soms nog bang vir die donker daar buite en veral vir die donker in my eie gemoed, U my uitgehaal het uit die groot donkerte en vir my ook die belofte in Openbaring gemaak het dat daar nie meer nag sal wees nie en dat ons nie meer die lig van ’n lamp of selfs die lig van die son sal nodig hê nie, want U die Here God sal ons in die nuwe Jerusalem self verlig. Amen