Ewald Schmidt

“En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”  Romeine 8:23-25

Hoe leef ‘n kind van God met al die teenstrydighede van ons nuwe lewe saam? Aan die een kant is dit sulke goeie nuus – ons is nuwe mense deur die werk van die Heilige Gees. Ons is nou kinders van God. Ons is gered. Ons het die Heilige Gees ontvang, met die gawes wat Hy graag uitdeel aan God se kinders. Soveel goeie nuus. En tog lewe ons nog in hierdie verganklike wêreld, en ons is self steeds deel van die verganklikheid. Ek sien dit elke oggend in die nuwe grys hare as ek in die spieël kyk. Ek voel dit as ek probeer oefen om fiks te bly, dit word elke jaar ‘n bietjie moeiliker. Ek word ouer, en swakker, soos die tyd aangaan. Daarmee saam kom die pyn van die menslike bestaan. Vriende wat begin sterwe, familielede wat met siekte worstel.

Kan daar iets wees soos pyn wat hoop inhou? Paulus gebruik die een voorbeeld wat dit mooi beskrywe. Die sug waarvan Paulus hier praat, is dieselfde sug waarmee die hele skepping sug in die verlange vir ‘n nuwe begin. Dit is die sug van ‘n swanger vrou, die geboorteproses het begin, en dit maak baie seer. Tog is daar aan die einde van die pynlike proses die wonderlike ervaring van ‘n nuwe geboorte, nuwe lewe om oor opgewonde te wees. Ter wille van daardie vooruitsig om ‘n baba vas te hou, het die vroue by die Here die onverstaanbare vermoë gekry om die geboortepyne te aanvaar en te verduur. Paulus sê: ons is reeds nuwe mense wanneer ons die Gees van God ontvang het. Maar ons lewe nou in hierdie stukkende wêreld. Daar is nog baie seer rondom ons, en ons word nie altyd daarvan gespaar nie. Ons sug. Soms raak ons moedeloos. Maar al hierdie dinge is die geboorteproses van God se nuwe wêreld, wat aanbreek wanneer Jesus terugkom. Ons verstaan dit nog nie heeltemal nie, want ons kan dit nie sien nie. Daarom hou ons in geloof vas aan die beloftes van Jesus. Ons het die vaste hoop dat die toekoms in sy hande is, en dat daardie toekoms nuwe lewe inhou. Wanneer ons hoop in ons harte het, het ons die vermoë om met volharding vas te hou aan die belofte. Dit dra ons deur moeilike tye- God sal ons op die regte tyd van die verganklikheid en die pyn daarvan bevry.

Gebed: Here, soms is dit moeilik om ons pad van geloof te stap. Help ons deur u Gees om te kan volhard. Vul ons harte met dié hoop dat hierdie swaarkry tydelik is. Die toekoms is veilig in u hande, en ons toekoms is mooi saam met U. Help my om dit te onthou as vandag dalk moeilik is. Amen.