Ewald Schmidt

"Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” Romeine 8:20-22

Genesis begin met die boodskap dat die Here sy skepping goed gemaak het. Alles in die Here se skepping was in harmonie. Die mens is geskape as God se beeld, om te heers oor die aarde, om dit te bewaak en te bewerk (Genesis 1:26) Met die mens se rebellie teen die Here het ook die skepping seergekry. Die aarde sou dorings en distels oplewer, en die mens sou net deur harde werk sy bestaan maak op hierdie planeet.

Die mens is die een spesie wat totaal handuit geruk het op aarde. Wat ‘n mens se opinie ook al oor aardverwarming mag wees, is ons besig om die planeet te vernietig. Ek sien dit elke keer as ek op ‘n strand loop, as ek al die klein stukkies mikroplastiek op die strand sien rondlê. Ek sien dit in die lugbesoedeling as ek na een van die groot stede van ons land toe ry. In plaas van benutting en bewaring verbruik die mensdom veel meer hulpbronne as waarop ons geregtig is. Ons plastiese beskawing en ons beheptheid met besittings druk so baie ander spesies verby die punt van uitsterwing.

‘n Verantwoordelike kind van God behoort ook ‘n ekologiese bewussyn te hê. Die Here het hierdie aarde vir ons gegee om verantwoordelik te bewerk, maar ook te bewaak vir die komende geslagte. Tans is die aarde letterlik besig om te sug in pyne van verwagting dat iets sal verander. Soos ons nou aangaan kom ‘n breekpunt vir die mensdom vinnig nader. Ek kan deel wees van God se oplossing. Ek kan baie meer bewus wees van my eie verbruikersgewoontes. Ek kan my deel doen met herwinning, en vermyding van enkelgebruik, nie-herwinbare plastiek.

Uiteindelik belowe die Here ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wanneer Jesus terugkom. (Openbaring 21:1) Die Skepping sien uit na daardie dag. Totdat dit aanbreek, kom ons wees deel van die oplossing, en doen ons deel om die planeet op te pas.

Gebed: Here, U het vir ons die aarde geskape as ‘n wonderlike woonplek. U het alles op hierdie planeet geplaas wat ons nodig het om van te lewe, en U met dankbaarheid te dien. Maar hierdie wêreld het ‘n kitswêreld geword. Ons vermors so baie van die hulpbronne, en ons bemors die water en die grond in ons soeke na vinniger en meer. Vergewe ons, Here. Help ons om ons verhouding met die natuur reg te kry. Help my om bewus te wees van my impak op my omgewing. Waar dit moontlik is, help my om die wêreld beter agter te laat as wat ek dit gekry het. Om U te eer. Amen