Deur Benescke Janse van Rensburg

In Augustus vanjaar is ’n hiënamannetjie met ’n doringdraadstrik om sy nek in die Krugerwildtuin gewaar. Op foto’s wat wyd versprei is, kon die gevlegte kabels om die hiëna se nek gesien word wat sy keel en nek oopsny.

Vir maande het veldwagters probeer om die beseerde hiëna op te spoor sonder sukses. Die dier het telkens aan die agterkant van die trop gebly en sodra dit menslike aktiwiteit gewaar, het hy homself uit die voete gemaak. Dit was kompleet asof sy beserings hom weerloos en skrikkerig gelaat het.

Die afgelope Sondagmiddag het toeriste die bestuur van die park ingelig dat hulle die beseerde hiëna gesien het. Pauli Viljoen van die park se wetenskaplike diens en Dr. Louis van Schalkwyk, ’n staatsveearts, het dadelik na die punt vertrek waar die dier laaste gesien is.

Die son was reeds besig om te sak toe die twee mans die hiënatrop opspoor – met die beseerde hiëna. Die dier is verdoof waarna die veearts die strik vinnig kon losknip en die wond kon ontsmet. Die strik het só diep in die hiëna se nek ingesny dat die vleis en vel op plekke reeds daaroor begin groei het. Nadat die dier behandel is, het die twee mans gewag totdat hy wakker word voor hulle vertrek het – net om te verseker dat hy nie ’n prooi word vir een van die ander roofdiere in die park nie.

Die storie het my laat dink aan hoe ons optree wanneer ons seergekry het of wanneer ons sukkel om onsself te vergewe vir iets waarby ons betrokke was of seer wat ons aan ander berokken het. Dit is kompleet soos ’n “strik” wat om ons nekke gespan word. Dit stroop ons van ons vreugde, selfvertroue en vrymoedigheid. Ons kruip eerder weg en isoleer onsself, as om God ’n kans te gee om ons te genees. Soos die hiëna, bly ons “agter aan die trop”, gereed om ons uit die voete te maak as dit voel asof iemand te naby aan ons kom. Dít is waar die vyand ons wil hou.

In Johannes 10:10 lees ons Jesus se woorde: “'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” In Jesaja 1:18 herinner God ons dat Hy ons wil genees: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” Ook in Johannes 8:36 lees ons:  “. . . as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”

Kan jy jouself indink watter verligting die hiëna ervaar het toe hy wakker geword het? Dít is wat God vir ons elkeen wil doen. Hy wil die strikke om ons nekke kom afknip en ons wonde kom ontsmet. Hy wil ons ’n kans gee om ’n oorvloedige lewe te beleef. Kom ons stap uit die skadu’s waar ons wegkruip en kom ons gee God ’n kans. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat as U my vrymaak, ek waarlik vry kan wees. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om nie langer van U weg te kruip nie, maar om die genesing te aanvaar wat U vir my wil gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.