Deur Benescke Janse van Rensburg

Het jy al ooit beleef hoe God mense op die regte tyd op die regte plek plaas om jou te help? Stefan Dreyer, ’n branderplankryer van Kaapstad het dit beleef.

In verlede jaar is Stefan se jare lange droom om by Donkiebaai in Namibië te gaan branderplankry verwesenlik. Saam met duisende branderplankryers van regoor die wêreld, het hy vir ’n week lank die geleentheid gehad om die branders, wat tot 2km aanhou breek langs die kus, te ry.

Op Stefan se laaste oggend in Namibië, het hy saam met ander Suid-Afrikaners teen die mistige kus opgestap. Alhoewel hulle saam in die water ingegaan het, het hulle mekaar gou verloor. Met die derde of vierde brander van die oggend, is Stefan se kop in ’n vlak sandbank ingeboor. Daar was ’n harde slag en hy was onmiddellik verlam. Met sy kop in die water en sy arms en bene wat gevoelloos langs hom hang, het hy geweet hy het moeilikheid. As iemand hom nie vinnig kom red nie, sou hy verdrink.

’n Brander het oor Stefan gebreek. Vir ’n oomblik kon hy asemhaal en hard roep vir hulp. Met die dik mis het hy nie geweet of daar enigiemand naby aan hom was nie. Die sekondes het verby getik. Sy asem het begin opraak. Net toe Stefan wou moed opgee, het arms om hom gevou wat hom omgeswaai het om asem te haal. Dit was legendariese branderplankryer van Hawaii, Eli Olsen.

Wat hierdie redding só groot wonderwerk maak, is dat Eli in die verlede reeds drie mense met soortgelyke beserings uit die water gered het. Die bloed op Stefan se voorkop en verlamming het Eli geweet dat die geringste fout met dié redding die beseerde verlam kon laat. Op die strand het Eli vir Stefan ’n sandnekstut gebou voordat daar met moeite gereël is om hom by ’n hospitaal uit te bring.

Terug in Suid-Afrika was die Suid-Afrikaanse en Namibiese dokters dit eens. Hierdie was ’n wonderwerk. Min mense met soortgelyke beserings (beide ’n skedelfraktuur en beserings aan sy nek en rug) sou nie verlam gelaat word nie.

Het God die oggend vir Stefan in die water gesien? Verseker. In Psalm 33:13-14 lees ons: Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.” In Psalm 46:1 lees ons: God beskerm ons en Hy maak ons sterk, Hy is altyd gereed om ons te help.” (Bybel vir Almal-hersiening) Ook in Psalm 91:11,14 word ons herinner dat God sy engele stuur om ons te help: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. . . ‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here, ‘omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.’”

God het Eli Olsen daardie mistige oggend in Donkiebaai op die regte tyd op die regte plek geplaas om Stefan te red. Net so wil Hy ons ook soms op die regte tyd op die regte plek plaas om ’n instrument in sy hand te wees. Mag ons ons oë oophou vir hierdie geleenthede.  Mag ons ook dankbaar bly vir elke geleentheid waartydens ons beskerming uit sy hand ervaar. Omdat ons God lief het, red Hy ons. Omdat ons Hom ken, beskerm Hy ons! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U beskerming oor my en my geliefdes. Help my vandag om my oë oop te hou om ’n instrument te wees en ander te help wat vandag in nood verkeer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Stefan Dreyer by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop Facebook bladsy.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.