Deur Benescke Janse van Rensburg

Wanneer iets skokkend ons tref – ’n egskeiding, ’n ontdekking dat jou kind gemolesteer is of wanneer ’n geliefde selfdood pleeg, is daar baie vrae. Hoekom het God dit toegelaat? Waar was Hy? Hoekom het Hy dit nie gestop nie? Hier is ’n storie wat jou dalk mag help om die seer makliker te verwerk.

’n Vriendin van my se pa het vir jare lank met depressie gesukkel. Alhoewel daar nie selfmoordneigings was nie, het sy met tye spesifiek gebid dat God haar pa sal beskerm om nooit tot daardie uiterste te gaan nie. Die nuus dat hy homself geskiet het, het dus die mat totaal onder haar uitgeruk. Langs sy liggaam waar sy van hom gaan afskeid neem het, het iets binne haar gesterf. Sy kon nie meer bid nie. Sy kon nie meer na God uitreik nie. Dit was 5 jaar gelede.

Met verloop van tyd het my vriendin besef dat God wel oral is. Dít het haar selfs kwater gemaak. As Hy dan oral is, hoekom het hy nie haar pa gestop om die sneller te trek nie?

Sowat twee jaar na haar pa se dood, het my vriendin een aand ’n preek geluister. Dit het gehandel oor die wreedheid van die mens en waarom God dit nie stop nie. In die preek het die prediker klem gelê op die geskenk wat God vir ons gegee het in die vorm van ’n vrye wil. Alhoewel Hy ’n verhouding met ons elkeen begeer, sal Hy ons nooit forseer om enigiets te doen nie.

Hierdie woorde het my vriendin diep getref. Sy vertel hoe sy in daardie oomblik ervaar het dat God by haar was. Hy het haar ken opgelig soos wat ’n pa met sy dogtertjie sal doen. Hierna was sy woorde aan haar: “Ek was by jou pa. Ek wou so graag hê dat hy nie daai sneller moes trek nie. Inteendeel, Ek het hom gesmeek om dit nie te doen nie. Tog, toe hy val, was Ek daar om hom te vang.”  Die ervaring het my vriendin se hart kom genees. Sy getuig dat dit haar persepsie van God ingrypend verander het omdat sy iets van sy liefde en Vaderhart vir ons elkeen beleef het.

Het ons altyd ’n verduideliking vir seer dinge in ons lewens? Nee. Wat ons wel kan weet, is dat God nooit verander nie. In Jesaja 54:10 lees ons God se woorde: “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie. My vredeverbond met jou sal nooit wankel nie.”

My wens is dat ons elkeen te midde van ons seer sal besef dat God daar is. As ons hartseer is, is dit Hy wat ons vertroos. As ons moedeloos is, vul Hy ons harte met moed. En as ons val, is Hy daar om ons te vang. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U liefde. Help my asseblief om sin te maak uit seer en uitdagende seisoene in my lewe. Help my om U liefde te beleef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.