Deur Benescke Janse van Rensburg


In ’n kasteel op ’n heuwel in Burgundy, Frankryk het Dmytro Malinovskiy sy luukse leefstyl gehandhaaf. Ten spyte van sy Salvador Dali kunswerke teen sy muur en ’n antieke Rolls Royce Phantom in sy motorhuis, het hy steeds sy bes probeer om nie te veel aandag na homself of die kasteel te trek nie. Vir ’n tyd lank het hy dit reggekry.

Juis om te verhoed dat enigiemand onraad bespeur, het Dmytro steeds ’n gedeelte van die landgoed vir toeriste oopgehou. Ek is seker nie een van die geraamde 25,000 jaarlikse toeriste sou ooit kon raai dat hul die kasteel van ’n Oekraïense voortvlugtige besoek nie. In 2015 was die polisie sterk op Dmytro se spoor vir aanklagte van internasionale bedrog en geldwassery. Nadat hy sy eie dood vervals het, het hy gedink dat hy daarin geslaag het om dié dinge agter hom te plaas.

Kan jy jouself dus indink watter skok dit vir Dmytro en sy sterk span veiligheidswagte was, toe Europol verlede maand by die kasteel instap en hom arresteer? Buiten vir die kasteel, is beslag gelê op €4.6 million (meer as R72 miljoen) se juwele en ander bates.

Soms is ons ook soos Dmytro. Ons raak betrokke by duisterdade en dink dat ons dit kan toesmeer. Wat ons egter vergeet, is dat God alles sien. In Spreuke 5:21-22 lees ons: 'n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy. Die oortreding van die goddelose agterhaal hom, hy draai hom vas in sy sonde.” Ook in Psalm 139:1-3,7 staan geskryf: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. . . Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” En in Lukas 8:17 lees ons: “Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.”

God sien wanneer ons die reëls buig in die werkplek. Hy sien wanneer ons ons integriteit prysgee om sukses te behaal. Hy sien wanneer ons selfs net ’n skelm boodskap aan iemand buite ons huwelik stuur. En hy sien wanneer ons, soos Dmytro, probeer om ons duisterdade toe te smeer.

Is daar genade en vergifnis vir ons betrokkenheid by verkeerde dinge? Verseker. Maar, ons moet onthou dat ons verantwoordelikheid vir ons dade sal moet neem en ook die gevolge daarvan sal moet dra. Dawid het dit beleef. Hy het ’n buite-egtelike verhouding met Batseba gehad. God het niks daarvan gehou nie. Dawid was baie spyt en het God gevra om hom te vergewe. God het, maar maar Dawid en Batseba se kind het steeds gesterf. Dit was ’n pynvolle ervaring.

My gebed is dat ons, ons ore sal spits en sal luister as die Heilige Gees ons waarsku om weg te stap van duisterdade. As dit moeilik is, kan ons Hom vra om ons deur sy Heilige Gees te versterk. Ek is seker nie een van ons wil soos Dmytro onkant betrap word nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat daar by U genade en tweede kanse is. Maak my asseblief bewus van dinge in my lewe wat nie U goedkeuring wegdra nie. Stel my ook asseblief in staat deur u Heilige Gees om daarvan weg te stap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van die kasteel by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop Facebook bladsy.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.