Deur Benescke Janse van Rensburg

Die storie van Koning Nebukadnesar fassineer my. Hy was die koning wie se lewe ingrypend verander het toe hy sien hoe God vir Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond beskerm. In sommige Kinderbybels word hy uitgebeeld waar hy langs die vuuroond staan met sy hande in die lug om God te prys. Hy het almal in sy koninkryk beveel om God te aanbid.

Vir ’n tyd het dit met Nebukadnesar goed gegaan. Sy koninkryk en invloed het bly groei, maar ongelukkig ook die trots in sy hart. Dan kry hy ’n waarskuwende droom. Daniël word geroep om dit uit te lê: “Dit is nie ’n goeie droom nie,” begin Daniël, “u koninkryk is groot en strek, maar as u nie leer om God te eer nie, sal u mag afgekap word en u sal u verstand verloor en gedwing word om vir sewe jaar soos ’n wilde dier te leef. As u ophou om hoogmoedig te wees en God aanbid, sal Hy weer vir u mag gee.”

Die droom ruk Nebukadnesar en hou hom op die regte koers. Maar dan, ’n jaar later, stap hy op die paleis se daktuin en kyk oor die stad. Arrogant sê hy: Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan 'n koningstad gemaak, tot my eer en roem (Daniel 4:30). Sy woorde was nog nie koud nie, toe hoor hy ’n stem uit die hemel: “Nebukadnesar, jou koninkryk word nou van jou af weggevat. . .”

Alles het gebeur soos Daniel voorspel het. Die koning het sy verstand verloor. Hy moes uit die stad vlug. Vir sewe jaar lank het hy saam met die wilde diere in die veld gaan bly en soos ’n bees gras geëet. Sy hare het lank geword en sy naels het soos ’n voël se kloue gelyk. Hy kon glad nie onthou dat hy ’n sterk koning was wat in ’n pragtige paleis gebly het nie. Eers hierna het hy sy verstand teruggekry. Nou het hy verstaan dat net God groot en magtig is. Alles wat hy het, is deur God as ’n genadegawe aan hom gegee. Nederig het hy na sy paleis teruggegaan en weer regeer met selfs meer mag as wat hy vantevore gehad het.

In Spreuke 16:18 waarsku die Spreukedigter: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” In Psalm 138:6 lees ons: “Hy (God) gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.” In van die vertalings staan geskryf dat God sy afstand van dié hou wat hoogmoedig is.

Is jy iemand wat loop en spog met wat jy het of wat jy bereik het? Vat jy die eer of gee jy dit aan God? My gebed is dat ons met elke sukses sal onthou dat dit God is wat ons in staat stel om te bekom wat ons het, maar dat dit alles steeds aan Hom behoort. Kom ons bid dat God ons harte rein hou van trots. Koos du Plessis het eens geskryf: “Alles wat ons is, is genade en alles wat ons het, is aan ons geleen.” Sterkte.

Vader God, baie dankie vir alles wat ek in my lewe het. Help my om te onthou dat dit ’n genadegawe uit U hand is. Maak my asseblief bewus indien daar enige trots in my lewe is wat vir U afstootlik is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Oorvertelling van Daniël 3 en 4
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.