Xanthe Hancox

“Luister, my volk, Ek wil my saak stel, Ek wil teen jou getuig, Israel. Ek is God, Ek is jou God! Dit is nie omdat jy nie offer dat Ek rekenskap van jou eis nie; jou brandoffers is immers gedurig voor My. Ek wil geen jong bul uit jou stal hê of bokke uit jou krale nie, want al die diere in die bos is Myne, die wild op duisende berge.  Psalm 50:7-10

Wat verlang die Here van ons? Die samelewings wat die antieke Nabye Ooste met die Israeliete gedeel het, het geglo dat hulle gode offerhandes wou gehad het, en inderdaad nodig gehad het. Die mense het voortdurend offers gebring, onder andere is diere geoffer sodat die gode 'n feesmaal kon geniet en sterk word om hulle vyande te kan verslaan.

Die Israeliete het ook die praktyk van offerhandes beoefen en vee sou vir hulle waardevol gewees het. Maar God is nie tevrede nie. Hoekom nie?

Die Here herinner hulle daaraan dat Hy nie soos die heidengode is nie. En alhoewel dit reg is vir hulle om te offer, het Hy dit nie nodig nie. Hy besit alle bulle en bokke in elk geval. Wat die Here verlang, is 'n dankbare hart.

Wat van ons? Daar is 'n hele aantal offers wat jy bring, miskien is jy 'n vrywilliger by jou kerk of jy gee jou tiende; maar sonder 'n dankbare hart is alles waardeloos. Psalm 50 eindig soos volg: "Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet." (1933/53-vertaling)

Beide die Ou en Nuwe Testament beklemtoon dat God, bo alles, dankbaarheid verlang. Wees in alle omstandighede dankbaar, sê Paulus, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (! Tessalonisense 5:18). Hoekom? Dit is omdat 'n mens net dankbaar kan wees oor iets wat jy ontvang het. Jy is eers dankbaar wanneer jy iets van iemand ontvang het. Dankbaarheid is die regte uitdrukking van ons geloof want ons het die grootste geskenk denkbaar ontvang – ewige lewe deur Jesus Christus.

Gebed: Here, vergewe my al die kere wat ek iets meer uit gewoonte gee as met 'n nederige, dankbare hart. Help my om U met 'n dankbare hart te gehoorsaam.  Amen