Xanthe Hancox

Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”  Matteus 21:1-3

Vandag se gedeelte is nog 'n storie oor 'n donkie wat jy heel waarskynlik goed ken. Elke jaar op Palmsondag herdenk Christene wêreldwyd Jesus se intog in Jerusalem op die rug van 'n donkie. En soos die geval met al die ander diere wat ons die afgelope tyd bespreek het, kan ons ook baie by hierdie donkie leer.

Wat opvallend is, is dat hierdie donkie nog nooit deur iemand gery is nie en tog het hy hom onmiddellik aan Jesus onderwerp. In die Markus Evangelie lees ons dat geen mens nog op hom gery het nie. Hy was nog nie ingebreek nie, hy was wild en ongetem. Maar hy was beskikbaar, gewillig en bereid om te doen wat Jesus van hom verlang het.

Die omstandighede moes skrikwekkend gewees het vir hierdie arme dier. Vir die eerste keer het hy 'n ruiter op sy rug, maar tog het die donkie doodkalm gebly. Hy het net aangehou doen wat van hom verlang is en gegaan waar hy veronderstel was om te gaan. En omdat Jesus by hom was, was hy nie bang nie.

Hoeveel keer maak ons nie beswaar en protesteer wanneer ons iets moeilik moet doen of 'n swaar las moet dra nie? Soms sloer ons, en hoop dat God Hom sal bedink en nie iets te moeilik van ons sal vra nie. Ons wil eers seker wees dat dit tot ons voordeel sal strek. Ons wil alles wat met ons gebeur verstaan voordat ons instem. Maar dit is nie hoe die Here met ons werk nie. Om Hom te vertrou en ons volkome aan Hom oor te gee, is meer as om alles te probeer verstaan en goed te keur.

Gebed: Here, help ons om U volkome in beheer van ons lewens te plaas en volgens u volmaakte wil te leef. Leer ons om U te vertrou en te weet dat U altyd die beste vir ons wil hê. Amen